OM VIR TV TE SKRYF
Les 2
Orraait, fyn. ‘n Nuwe week, ‘n nuwe les. In die eerste les het ek gevra jy moet TV kyk en boeke lees. As jy dit getrou gedoen het, is jy nou een van twee dinge: (1) Gereed vir die volgende les. (2) Geskei, jou lewensmaat het iemand gaan soek wat nie net voor die tv of met ‘n boek sit nie.
Flou grappie, jammer. Ek is besig om twak te praat, kom ons begin liewer met die les:
Storie en karakter
Orraait, fyn, ek weet jy wil weet hoe lyk ‘n draaiboek vir televisie, wat die formaat is. Ek wys by hierdie les die eerste bladsy van ‘n episode uit die gewilde seep Binnelanders, een wat ek self geskryf het. Net sodat jy ‘n idee kan kry, okay? Om die formaat mooi te verduidelik, gaan ‘n hele les vat en ek belowe dit gaan gebeur, net nie hierdie week nie. Glo my, dit help jou zilch as jy weet hoe lyk die monster maar nie hoe om hom te voer nie. En die dier is honger, broeder en suster. As hy eers geproe het, soek hy nog en hy soek storie, storie, altyd storie.
Storie en karakter. In my kop is hulle soms dieselfde ding: Karakter is storie. Hoekom sê ek so? Kom ek verduidelik deur middel van ‘n voorbeeld uit ‘n bekende monster wat tot almal se verbasing (myne veral) die King Kong van Afrikaanse televisiedrama geword het: Arende. Ingeval jy die afgelope klompie dekades in ‘n koma was, hiermee vlugtig die plot van Arende: Gedurende die Boereoorlog word Sloet Steenkamp as Kaapse rebel tot die dood veroordeel, maar hy word voor die vuurpeleton begenadig en lewenslank na die eiland Sint Helena verban. Anders as die Boere wat reeds daar in ‘n kamp aangehou word, weet Sloet hy gaan nie na die oorlog huis toe nie. Hy moet tot sy dood hier bly. Hy wend dus gevaarlike pogings aan om te ontsnap, tot die groot ergernis van die kaptein in beheer van die Engelse soldate wat die kamp bewaak: James Kerwin. Daar is baie takke aan die boom van Arende, die tweestryd tussen Sloet Steenkamp en James Kerwin is die stam.
Die idee van Arende, die vonk, het by legendariese regisseur Dirk de Villiers ontstaan. Ek het Ou Grote vir hom geskryf, ‘n Weskusdrama, ek speel ook die bang-vir-sonbrand speurder in die reeks. Terwyl ons by Saldanhabaai daaraan werk, stap ek en Dirk een middagete strandlangs en bespreek die toneel wat net na ete geskiet moet word. Dis ‘n Maandag. Dirk wil iets voeg by wat ek geskryf het, iets snaaks omdat die ma in die storie deur briljante Shaleen Surtie-Richards aan die begin van haar TV-loopbaan gespeel word. En sy is baie snaaks. Terwyl ons dit bespreek, verander Dirk skielik ergerlik die gesprek: “Almal was weer bleddie laat vanmore, dis elke bleddie Maandag se storie. Jy moet iets skryf wat ek op ‘n bleddie eiland kan skiet, ver van niks af, die bleddie spelers moenie elke bleddie naweek huis toe kan gaan nie.”
‘n Eiland ver van niks af. Die krummel. Dis nog nie ‘n hele ete vir die monster nie, maar ek het nou die eerste, uiters belangrike krummel. Ek kort net die hoofdis, die storie.
En toe dink ek aan my oupa Jan. Na sy dood op 94 het ‘n koerant ‘n foto van hom geplaas, onder die opskrif: HELD VAN DIE BOEREOORLOG RUS NOU.
Oupa Jan is in die slag van die een-of-ander rivier gevange geneem en die Kakies het hom na die kamp op Sint Helena verban. Eers begin ek aan Oupa Jan as mens dink: ‘n Regte ou korrelkop, maar met ‘n sagte hart. As hy iets wil doen, gaan hy dit sowaar as wragtag doen. In die proses wil hy net nie iemand anders seermaak nie.
Ek weet, dis basies ‘n opsomming van Sloet Steenkamp se karakter.
Toe dink ek verder aan Oupa Jan, sy streke, die onhebbelikhede wat hy aangevang het. Hy en sy ou makker wat saam met hom in die oorlog was, oom Stefaans, ‘n afgetrede skoolmeester. Oom Stefaans het een keer saam met Oupa Jan uit ‘n gevaarlike situasie weggejaag, maar oom Stefaans se perd het in ‘n erdvarkgat getrap en die oom het hom bewusteloos geval. Omdat die vyand vinnig in aantog was, en Oupa Jan se waterfles leeg, het hy in ‘n benoude oomblik maar gedoen wat hy kon en Oom Stefaans sopnat gepie om hom wakker te kry.
Dis reg, oom Stefaans word toe PJ Buys, Sloet Steenkamp se beste vriend. Ek onthou toe ‘n paar staaltjies wat hulle oor die kamp op Sint Helena vertel het, hoe die kamp se Engelse offisier ‘n sportdag gereël het en Oupa Jan het vir die myl ingeskryf, hy het vyfde gekom en toe hou hy maar aan hardloop; die Engelse wagte kon hom eers vang toe hy in Sint Helena se hawe op ‘n skip probeer klim.
En daar, uit karakter gebore, uit mense, het ek toe die storie wat op ‘n eiland gebeur, ver van niks.
Karakter is storie. Ek was gelukkig met Arende omdat ek so ‘n oupa en oom gehad het. Met ander reekse was dit nie altyd maklik nie, ek moes karakters uit stukkies van regte mense bou. ‘n Tante se ipekonders, ‘n niggie se manier om als te herhaal, my ma se manier om kort-kort oog te knip…voeg dit saam en dis ‘n karakter.
My dierbare moeder, so terloops, was die inspirasie vir ‘n karakter in Konings, my dramareeks oor ‘n supermark empire. Anna-Mart van der Merwe het die karakter gespeel, uitstekend, ek het soms gevoel ek sit en kyk na my ma besig in die kombuis. My ma het al my stories slaafs gevolg, en na die week se episode van Konings kon ek maar weet sy gaan bel en veral aangaan oor die spesifieke karakter: “Vaderland, seun, Anna-Mart speel haar pragtig, maar waar kom jy aan die snaakse mensie?”
Oh, would some power the gift give us to see ourselves as others see us! het die Skotse
digter Robert Burns geskryf. My wonderlike ma het nooit gekliek nie. En ek was lugtig om haar te vertel.
Karakter is storie, ja, maar storie moet natuurlik verder ontwikkel word. Wat soms vir my werk – nie altyd nie, onthou alles omtrent die skeppingsproses is afhanklik van die wind en weer, en ek speel nie: as dit buite jou skryfplek aanhou reën, wed ek jou daar gaan kort voor lank ‘n reënstorm in jou storie losbars. En dis nie verkeerd nie, dit hoort so, ek glo gedeeltelik soos die Amerikaanse fantasieskrywer Ray Bradbury dat skryf organies moet wees: “I get up in the morning, get some coffee, go to my computer, climb on a high cliff, dive off and build my own wings on the way down.”
Dis mooi gestel en ek stem saam, maar net dedeeltelik. Skryf jy byvoorbeeld oor ‘n padbouer, beter jy jou navorsing oor padbouwerk behoorlik doen. Die kanse is goed dat jy met die navorsing gebeure en sittuasies gaan raaklees wat in jou storie gaan beland. Jou brein moet altyd oorgehaal wees om sulke “geskenkies van die gode” (C.F. Beyers-Boshoff, skrywer van radiotreffers soos Dans van die flamink) in te neem en spesiaal vir jou storie te verwerk.
Karakter en storie, die twee pilare waarop mens ‘n televisiereeks bou. Maar dis nie ‘n televisiereeks voor die mense by die tv-kanaal dit koop nie. Om daar te kom, en ek wens jou net krag toe, verloop die proses oral min of meer soos volg:
Jy skryf een episode volledig klaar. Dit moet saam wanneer jy jou voorlegging aan die kanaal stuur. Dit sal in Afrikaans wees as jy in ons taal skryf, en dis gewoonlik nie ‘n probleem nie.
Dit is ‘n probleem as jy die volgende dele van jou voorlegging moet doen, feitlik al die tv-kanale vereis dit:
Tag line. Een, uitersdriereëlswatdiekern, die hart,vanjoustorieweergee. Ekprobeeraltyddinkwatsalopdieposterstaanasdit‘n filmwas: Meet Benjamin. He falls for his girlfriend’s mom. He’s a little worried about his future (The Graduate metDustinHoffmanindiehoofrol). Enasdit Arende was: Die vyand sluit hom agter doringdraad op ‘n eiland toe, maar Sloet Steenkamp is ‘n jakkals wat weet hoe om tonnels te grawe.
Synopsis. ‘n Kort maar duidelike opsomming van jou storie, niks meer as ‘n paragraaf nie. In Engels, altyd Engels. Seker maar omdat daar soveel Engelssprekendes by die tv-kanale werk.
Characters. ‘n Lys van jou hoofkarakters. Naam van karakter, gevolg deur ‘n kort karakterbeskrywing. Piece of old tekkie, dis nie rocket science nie, hou dit net kort.
Episodes. ‘n Kort opsomming van die hoofgebeure van elke episode. Net die kardinaal belangrikste gebeure. Onthou die mense by tv-kanale kry regtig honderde voorleggings, as jy langdradig raak gaan hulle ophou lees.
En dis al.
Voeg dan daardie eerste episode van jou by, en stuur alles as ‘n voorlegging aan die dramahoof van die betrokke tv-kanaal. Na ongeveer 90 dae gaan die dramahoof nee sê en jou hart breek, of jy gaan genooi word om jou storie te kom pitch. Dit beteken jy moet by die betrokke kanaal se hoofkantoor opdaag, voor ‘n komitee opstaan (ek moes dit al voor 12 hoofde van ‘n klomp departemente doen, hulle lyk altyd vir my soos skilder Da Vinci se Laaste Avondmaal en ek wonder soms wie’s hierdie keer Judas) en jy moet jou storie met hartstog en oortuiging aan hulle vertel. Sowaar, dis hoe dit werk. Jy moet jou verbeel jy is Marius Weyers of Sandra Prinsloo en jou storie soos ‘n ware akteur aan die komitee oordra. As jy daarin slaag om jou storie aan hulle verkoop te kry, sal hulle jou ‘n ontwikkelingskontrak aanbied. Dit beteken hulle gaan jou per episode betaal om die reeks klaar te skryf. Jy gaan soms moet oorskryf, glo my. En ek wens jou net krag en goeie geestesgesondheid toe. Persoonlik voel ek tv-kanale, oor die algemeen, maak die proses van voorlegging onnodig ingewikkeld. Ek ken goeie skrywers wat nie tv-werk kan kry nie; hulle is skaam en teruggetrokke van geaardheid, die vuurdoop van ‘n pitch is te erg vir hulle. En so gaan daar stories verlore wat suksesvol op televisie kon wees.
Orraait, fyn, dis gelukkig nie my job om jou storie verkoop te kry nie. Ek hoop net ek kan jou, deur middel van hierdie geselsies, genoeg ammunisie gee om uit die stryd van die pitch as oorwinnaar te tree. Ek wil graag jou storie op televisie sien!
Volgende keer gesels ons oor dialoog. Hoe karakters moet praat. Dis bleddie moeiliker as wat jy dink.
