WANDELSTOK 21 – DIE KIERIE WAT NIKS BETEKEN NIE
Ek het die kierie vir Ruhan present gegee. Waar het ek aan die ding gekom? Dis ‘n eenvoudige, ligte kierie van wilgerhout. Ek kon nog nooit daarmee loop nie.Die kierie is soos ‘n kind wat nie uitstaan nie en min notisie kry.
Na middernag, vroegherfs 2024, Astonbaai. Deur my balkonvenster sien ek die maan en sterre in die strandmeer verdrink, flaminke droom in die maanlig, die uilpaartjie skinder in hulle nes in die hoë denneboom oorkant my woonstel. Ek dink aan Sarie-Elana, Saarkie, die jong vrou besig om van my te skei, Ruhan se geliefde mamma.
Ek lê al weer wakker met rugontsteking en sciatica in my regterbeen, ou vriende van my sedert my rugoperasie veertig jaar gelede maar kwaaivriende as dit koud raak of ek en Ruhan stoei te woes. Ek weet ek kort weer ‘n inspuiting, pille paai bloot die pyn wanneer ek kwalik kan loop en nie eens moet probeer skryf nie; sit is onmoontlik.
Daar is rugdokters wat brand om weer skerp voorwerpe in my te druk. Se moer. Hulle het hulle kans gehad en dit verbrou. Ek drink liewer pynpille, gaan kuier so nou en dan by my dokter of apteker vir ‘n kortisoontjie.
Hoe het my rug so ingekonk?
Draf is goed vir jou hart, volgens al die menere wat vir ons rugby op skool gegee het. Ek het jare lank ‘n toegewyde drawwer geword. Draf is gevaarlik sleg vir jou rug, volgens feitlik elke dokter of apteker wat al kortisoon in een van my boude moes spuit.
Raai waaroor raak ‘n ou ruglyer dankbaar? Dat hy alleen woon as hy in so ‘n nag toilet toe moet kruip. En daarna weer terug bed toe moet kruip. My bed is deesdae net die matras van my regte bed, op die vloer gegooi met ‘n antieke geelhoutkis as stut vir my kussing en bo-op die kis is my bedlampie, ‘n aptekie medisyne, ‘n toring leesboeke, notaboek en pen. Ek kan nie meer op die regte bed slaap nie, dit duik in en maak my rug seer. Ja, dit is donners pateties.
Die geelhoutkis het aan my tweede vrou Dalene behoort, haar pa het dit met sy eie hande gemaak. Hulle is albei dood.
Jan Scholtz, die Jan Scholtz, skepper van Môre, Môre en Binnekring en ‘n streep ander tv-treffers, my ou brekfismaat wanneer die dag se skryfwerk nie lekker aan die gang wou kom nie, het Dalene op ‘n kuier heelwat geld vir die geelhoutkis aangebied. Hy is ook dood.
Te veel mense is dood.
Op pad terug matras toe stamp ek teen die geelhoutkis en my oogdruppels val op die vloer, rol onder my regte bed in. Ek voel-voel dadelik vir die wilgerkierie wat nou langs my matras op die vloer lê. ‘n Loopstok was die arme ding nog nooit regtig nie, Ruhan speel swaard en light saber daarmee, maar die hout is slank en lig tussen my vingers as ek iets uit ‘n moeilike plek moet kry.
Die patetiese soektog na verlore goedere onder my bed of hangkas, op my maag met met ‘n reeds patetiese kierie in die hand, moet liewer nie deur ander aanskou word nie. Ruhan weet daarvan, sy mamma nie. Ek en Saarkie deel nie meer ons skete met mekaar nie. Ons sukkel al ‘n jaar met die skeihof en die spanning maak ons knorrig. Ek woon hier op Astonbaai omdat dit naby genoeg aan my huis op Jeffreysbaai is; ek kan Ruhan na skool oplaai om by my te kuier. Dis ook ver genoeg sodat ek Saarkie nie te veel raakloop nie. Sy en Ruhan en sy ouma Nita woon in die vierslaapkamerhuis wat ek by die see gekoop het nadat die Karoowinters op Hanover te verdomp ysig vir my rug geword het. Niemand het my ingelig hoe koud en koelbloedig die seewind hier kan waai nie.
Die wilgerkierie red vir die soveelste keer my oogdruppels uit die donker onder my bed. Ruhan bly die kierie hier vergeet. Ons het lanklaas saam gaan loop. Dis die ligste en gemaklikste kierie as jy goed agter kaste of onder beddens wil uitkrap en jy kan nie meer so lekker buk nie.
Nou die dag – wat was dit? Maandag, drie dae gelede? – tel Ruhan die wilgerkierie op en sy verbeelding neem oor. Ek weet altyd wanneer dit gaan gebeur, sy oë wys dit. Ek kry my foonkamera gereed, net betyds ook: Ruhan is klaar besig om iemand anders te word, iemand kleiner en krommer as hy, iemand ouer wat die kierie as stut broodnodig het. Ek vermoed eers hy doen nou sy pappa, toe begin hy hees en krakerig praat; nee, dis nie ek nie, dis Yoda van Star Wars, daai kort maar gevaarlike Jedi met die harige spitsore. Wat gaan van hierdie wonderkind van my word?
(RUHAN VIDEO HERE, ACTING HE’S YODA IN STAR WARS)
Ek gooi druppels in my oë voor ek terug in die bed kruip. Miskien verbeel ek my net, maar dis asof my oë gouer uitdroog vandat ek op ‘n laptop skryf. Kan dit die lig van die skerm wees? Of is ek maar net my oorle ma se kind? Toe sy die dag lees die wind waai goudstof uit die mynhope van Johannesburg in ou vrouens se oë, moes sy dadelik ‘n bril kry en daar was altyd oogdruppels op haar bedkassie; ek het eers in haar laaste dae besef haar bril was regtig nodig, sy was nie net ‘n verbeelsieke ou dame nie.
Soms wonder ek of ek nie ‘n verbeelsieke ou man vol selfbejammering is nie. Maar dan praat my rug en my sciatica hard met my en ek wonder nie meer daaroor nie.
Ek probeer gemaklik op die vloerbed lê en sê vir my vrou ek hoop wragtag die sciatica los my nou, ek moet bietjie slaap anders gaan ek more weer nie kan skryf nie. Maar dis nie Saarkie met wie ek so by my sigselwers praat nie. Dis Dalene, my tweede vrou, my engelvrou, al amper vyftien jaar in haar klipgraf tussen die Karookoppies. As ek aan haar dink is ons in Engeland, in Frankryk, besig om te lag oor iets. Dit bly my hart breek om so te dink, hoekom hou ek nie verdomp op daarmee nie?
Ek slaap niks. Die selfbejammering kom, maar ek jaag dit weg. Ek vat die notaboek en pen langs my vloerbed, probeer notas maak vir die skryfwerk waarmee ek besig is. Dit werk nie. Ek trek maar ‘n boek nader.
Ek lê en lees tot daglig voor ek my landlady whatsapp: Kan Jacques gou ‘n draai by my maak? Ek sê nie hoekom nie, Jeanette hoef nie te weet my rug en been neuk my al weer rond nie. My woonstel sit bo-op haar huis met ‘n steil, gevaarlike buitetrap, sy en haar oujongkêrel van ‘n seun woon alleen in die huis. Jacques het die mooiste glimlag en hy glimlag baie. Ek vermoed Jacques rook meer boom as Stevie Wonder en Willie Nelson saam, maar hy is skitterend slim met sy hande en altyd gewillig om my rond te karwei. Hy sal verstaan ek kan al weer nie bestuur nie.
Hy kan sommer ook my appelkierie dokter. Die duct tape om die breek moet al weer vervang word, en die rubberdop onder aan haar voet is so gaar Jacques gaan ‘n nuwe dop moet aansit.
Terwyl ek op Jeanette se antwoord wag – of haar seun se klop aan my deur – probeer ek water vir koffie kook. Ek is soort van regop maar lekker krom soos Ruhan se Yoda. Ek mors vreeslik toe ek kookwater by my koffie probeer voeg, en dink dis my verdomde rug se skuld. Nee, kom ek na ‘n paar oomblikke agter, hier is iets anders aan die gang.
My regterhand doen nie wat ek vra hy moet doen nie. Hy is nogal stram ook, begin bietjie seer klop. Dis nie regtig ‘n nuwe skeet nie, is dit?
Liewe hel, tog net nie osteo ook nie.
My ma se hande is deur osteoperose verwring. Jig, het sy dit genoem. Soms het sy gesnik van die pyn. Ek wonder of ek te oud is om weer te begin drink.
Ek is ses en sewentig jaar oud, woon al amper twee jaar alleen, die dood het my groot vriendekring tot ‘n kolletjie eerder as ‘n kring gekrimp, weduwees probeer net een keer melktert aandra en word dan heeltemal deur my afsydige houding afgeskrik, Ruhan is amper my enigste geselskap –
My foon sê hy het ‘n boodskap gekry. Dis van Ruhan: Good morning, Pappa. Are you okay? I worry a lot.
Ek kan darem nog tussen die lyne lees: ek is besig om my seun se senuwees gedaan te maak. Ek dink ek help hom om hier naby te bly, kyk nou hoe breek ek sy hartjie.
Maar daar is een vraag, een verskriklike vraag, wat ek nog nooit vir enige iemand gevra het nie, en ek weet nie of ek kan nie.
Dit gebeur nie onmiddellik nie. Ek tob nog ‘n bietjie in my vloerbed, sukkel weer toilet toe, drink water, en toe kom lê die besluit my brein vol: Hou verdomp op om so trots te wees. Jy dink net jy is onafhanklik, jou eie baas, jy is ‘n belaglike ou aap wat nie eens meer oogdruppels onder ‘n bed kan uitkry sonder om met ‘n kierie te kniel nie.
Toe bel ek my derde dogter, my pragtige Christi, en vra die een verskriklike vraag wat ek nog nooit vir enige iemand gevra het nie: Is dit dalk moontlik dat ek by hulle kan kom bly?
