HOOFSTUK SES

 “As die lewe ‘n deur toeklap…maak dit weer oop. Dis ‘n deur. Dis hoe hulle werk.”

Afrikaanse gesegde

     Kerwin skink vir almal tee. Niemand raak aan sy rusks nie, nie eens Maggie Grundling nie. Deur die oop sitkamervenster klink die see geweldig naby vir haar, sy’s haar lewe lank ‘n binnelander. Sloet en PJ Buys kom dit skaars agter, het saam met Kerwin op Sint Helena dag en nag die branders gehoor.

     “Kaptein Kerwin, mog ek kaptein iets vra?” Maggie gee hom die glimlag wat haar mooi en jonger laat lyk.

     “Asseblief, ek’s lankal nie meer kaptein nie.”

     “Hy gedra hom net soos een,” brom Sloet, pas terug van Kerwin se kleinhuisie met sy blaas seer van die inhou.

     “Op Sint Helena het hy gedink hy’s die goewerneur,” knipoog PJ Buys.

     Kerwin forseer ‘n glimlag. “Soos jy kan sien, Maggie, ons het the best of friends geword.”

     “Ek het net gewonder, die Engelse aksent is weg, praat kaptein se kinders ook Afrikaans?”

     “Soos hulle ma, ja,” loop Kerwin ‘n draai met die waarheid, nie lus om ‘n vreemde vrou te vertel hy het net een dogter oor nie. “Meisie was  ‘n ware…”

     “Boerenooi,” voltooi PJ Buys die sin.

     Maggie se glimlag krimp. “Ek is jammer, ek neem aan Meisie is nie meer…”

     Kerwin raak kortaf. “Ancient history, my dear. Kom, jy drink nie jou tee nie.”

     Maggie drink haar tee.

     “Hoe laat vlieg ons vanaand?” vra Sloet.

     “Halfsewe.” Kerwin aarsel  en kyk na Maggie. “Ek het ‘n mooi roostuin hier agter, jy mag ‘n paar pluk.”

     Maggie word nie so maklik verdryf nie. “Dankie, ek het twee tuine op die plaas, een spesiaal vir rose.”

     Sloet is reguit. “James, ons gaan weg wees voor Magda kan skinder. Praat maar.”

     Kerwin laat sy asem uit. “My dogter het die vliegkaartjies klaar betaal, maar vervoer en verblyf in Nairobi is skielik ‘n probleem.”

     “Ek dog sy betaal alles.”

     “Elize werk net in Londen, Sloet, sy besit nie die plek nie.”

     PJ Buys probeer diplomaties wees. “Ek vermoed dis ‘n saak waarvan ons al moes geweet het.”

     Kerwin trek sy asem in. “Ons sou die gaste van die koloniale regering wees, I’m afraid the invitation has been withdrawn. Suddenly. This morning.”

     “Regering?” grom Sloet. “Hoekom is my kind nou ‘n klomp klerke se besigheid?”

     “Bloody hell, Sloet, het jy gedink ons gaan hom met jou Boer War record red? Ek moes toutjies trek by Foreign Affairs in Londen vir twee official letters, een van Foreign Affairs en een van someone close to the Prime Minister. Hulle vlieg vanaand saam met my.”

     Maggie sit oopmond, die ou mans by haar op die sitkamerbank is nie beindruk nie.

     “Wanneer wou jy hierdie feite met ons deel?” PJ Buys glimlag soos ‘n skeermes.

     “Seker nooit.” Sloet glimlag nie.

     Kerwin staan sy  man. “Wat het julle gedink gaan ek doen? Ek kan julle nie met official matters vertrou nie. Sakkie is natuurlik deel van my mission, maar stopping the Mau-Mau’s the main part. Ek moes as African expert die government in Nairobi help met ‘n plan.”

     “African expert?” Nou is Sloet se glimlag die skeermes.

     PJ Buys is onrustig. “Jy praat in die verlede tyd, Kerwats. Wat gaan aan?”

     “ ’n Lafaard in Foreign Affairs wil nie teken vir vervoer en verblyf nie. Nairobi wonder nou of die Prime Minister regtig weet van my. Ek glo as ek net met die goewerneur kan praat…”

     “Hoeveel sal vervoer en verblyf wees? In ons geld?” vra Maggie.

     Dis so onverwags dat Kerwin net Engels praat. “Oh dear, I’m afraid it would be rather a large sum.”

     “Wat? Praat ons van ‘n paar honderd pond?”

     “Good heavens, no…”

     “Ek sal betaal.” Sy sit regop soos ‘n rinkhals. “Vier honderd vir die vier van ons.”

     “Hanou, wag ‘n bietjie!” roep Sloet uit.

     Kerwin is stomgeslaan.

     Maggie raak aan Sloet se arm. “Oom skrik verniet, ek loop nie met soveel kontant rond nie. Ek sal maar trek soos ons aangaan, my bank gaan nooit vir kaptein Kerwin geld gee nie.”

     PJ Buys vonkel. “Sy’t ‘n punt, Sloetie.”

     Sloet wil nie op PJ Buys skree nie. “Wil jy so waaragtig ‘n vroumens in daai plek invat?”

     Maggie glimlag. “Dankie dat jy omgee. My ou lewe is in die hande van die Vader, my kinders is groot en vort. Ek weet ook hoe om te skiet.”

     Kerwin vind weer sy stem. “Ek voel, really, as ons dit so doen…ek moet in bevel wees, maak nie saak wie’s die borg.”

     “Kaptein, ek het die volste vertroue in kaptein. Jy’s ‘n legende in die Karoo.”

     Sloet besef die verdomde wedevrou flirt met Kerwin en die idioot geniet dit.

     Kerwin buig effens. “Dankie, Maggie.”

     “Ek dog jy’t besigheid in die Kaap,” probeer Sloet vir oulaas ‘n ramp afwend.

     “Niks wat nie mog wag nie. Ons moet net vir my ‘n vliegkaartjie koop.”

     PJ Buys vonkel nie nou nie, hy skitter. En tot sy verbasing voel hy meteens lus om Maggie sag in haar nek te soen.

     Kaatjie Vogel gee weekdae skool en rig netbal af. Sy kuier Saterdae by haar pa in Laingsburg se ouetehuis, loop Sondae in die veld buite Beaufort-wes en soms tel sy dalk ‘n fossiel op. Sy luister klassieke musiek en lees saans laat sodat haar kop nie moet dink nie. Sy keer gedurig dat haar ma nie die woonstel ooplos of afbrand nie. En sy skryf elke maand aan haar gewese man en stuur vir sy dogters klippies saam wat fossiele kan wees.

      Speeltyd maak Kaatjie of sy ‘n roman lees, tob eintlik net by die personeelkamer se venster: As dit of dat gebeur het, as sy maar soos Sara in die Bybel was, as-as, haar ma met haar asse vanmore, verdammt.

     Kaatjie is in drie tale verslaaf aan liefdesverhale: Duits, Engels en Afrikaans. Sy het nog nooit een gelees waarin die onvrugbare heldin haar man skei sodat hy met ‘n swanger weduwee kan trou, die word later deur Mau-Mau vermoor en die man trou weer met die heldin nie. Scheisse, bulldust, koeimis.

     Sakkie antwoord feitlik nooit haar briewe nie. Dreksak is te lui om te skryf. Hy het Hanna se babadogter aangeneem en toe het hulle saam een: Kleinhanna en Corrie. Hy sal in nood dat Kaatjie en haar ma na hulle kyk, maar hy gaan haar definitief nie weer trou nie.

     Hoekom dink sy sulke bog? Sy mag nie so dink of aan die Waansinnige Onderwerp nie. Sy het ‘n deur in haar lewe toegemaak en dit moet  so bly.

     Haar ma het asse in haar kop geplant en sy bly  lief vir die dreksak, maar die Waansinnige Onderwerp is taboe. Sy mag dit nie dink nie, kan haarself ook nie keer nie:  As sy maar net, soos Sara in die Bybel, voor haar laaste vir Sakkie ‘n Izak kon gee.

     Karimi se bende breek in paartjies op en ryloop so met lorries noord na die wit berg. Die wapens dra hulle saam met meel en suiker in streepsakke. Die kis met patrone ook. In die woestyn het Aggie en sy mense paaie presies so korter gemaak, die polisie het nooit geweet ‘n groep trek nie.

     Aggie moet saam met Karimi ryloop. Hy hoor kort-kort die god Murungu gaan hulle teen die Engelsman bewaar en red. Karimi bied af en toe Khat uit ‘n papiersaksak aan. Hy noem dit Miraa. Aggie skud elke keer op ‘n mooi manier kop. Hy wil nie saam met hierdie mensgoed besimpeld raak nie.

     Hulle word halfpad berg toe by ‘n plekkie afgelaai met net een petrolpomp, ‘n klein winkeltjie en twee hutte. Karimi gaan vra vir water in die winkel.

     Prima, besluit Aggie, net hier gaan hy padvat en wegkom.

     Dis ‘n verskriklike fout, maar hy besef dit nog nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *