HOOFSTUK VYF EN DERTIG

“Karoo is ‘n Khoi-woord wat droog of harde grond beteken.”

Wikipedia

     Becky slaap op die riempiesbank in die pastorie se sitkamer. Sommer in haar uniform. Dit was ‘n lang en bitter tragiese dag. Sy wou nie op James se bed in die gastekamer gaan lê nie, netnou kry die ander vrouens hond se gedagte.

     Maggie kom maak haar wakker. Die Engelse wagte sê die Generaal wil dadelik met haar praat.

     Becky draf gaap-gaap Landrover toe, haak vinnig die radio se mikrofoon af. “General, sir, begging your pardon, sir.”

     “No, no, please,” antwoord hy en sy hoor hy gaap ook, “It’s past twenty-three hundred hours, Lieutenant, we’re supposed to be in bed.”

     “Thank you, sir, can I help you with anything, sir?”

     “The police station up the road from you, Sergeant What’s his name? Where they kept Izak Vogel?”

     “Sergeant Harry the Idiot, sir.”

     “That’s him. The idiot finds himself in possession of a real live Mau-Mau, plus the man’s love who appears to be the attorney and niece of Jomo Kenyatta. When I heard that I immediately thought: our Becky will sort that one out.”

     “Thank you for putting your trust in me, sir, I’ll do my best.”

     Dis kort voor middernag toe Kaatjie die Ford-trokkie langs die pastorie intrek. Die jong wagte aan diens groet met ‘n bra stemmige, versigtige wuif. Sy wonder daaroor. Gewoonlik is hulle amper te vriendelik.

      Wie is dood? Die vraag folter haar van die padblokkade af.

      Sy vergeet die groot teddiebeer in die Ford.

     Die voordeur staan oop. Emma los dit gewoonlik vir die hitte oop. Dis stil en donker in die huis. Net die kombuislig brand. Kaatjie is dors vir water, loop reguit kombuis toe.

      Maggie maak drie bekers koffie. Sy dra japon, nagrok, pantoffels. Haar hare kan doen met ‘n borsel.

      Kaatjie groet nie eens nie. “Wie’s dood, tant Maggie?”

      Maggie probeer, lippe bewe, maar sy kry nie ‘n woord uit nie. Kaatjie raak aan haar. Maggie druk haar kop teen Kaatjie se bors.

      “Corrie,” prewel sy net-net hoorbaar.

     Kaatjie kry Sakkie in die stoorkamer, besig om by lamplig ‘n plank te skaaf. Sloet en Kerwin timmer die raam van ‘n kis aanmekaar. Haar fokus is so op Sakkie dis asof die ander twee onsigbaar geword het.

     Sy het op pad hierheen trooswoorde in haar kop probeer vorm, hulle is skielik net weg.

     “Sak-man,” is al wat sy uitkry voor die trane kom en Sakkie die trooswerk moet doen. Die groot man hou haar klein lyfie styf teen hom.

     Karimi dog hy sien haar in ‘n droom, sy Njambi, tall and lovely soos altyd. Sy praat saggies met hom. Sy sê sy is lief vir Karimi Job, sy sê dit in Kikoejoe:

     “Ngwendete Karimi Job.”

     Hy dink hy sê Njambi is ‘n beautiful lady, ook in Kikoejoe:

     “Njambi nyarari.”

     Maar sy frons, verstaan nie, want Karimi se mond sukkel om te praat. Dit laat haar huil en ‘n traan tref sy neus. Toe weet hy dis nie ‘n droom nie.

     Hy lê op ‘n wit bed. Sy staan langs die bed. Hulle is in ‘n wit kamer. ‘n Naald steek in sy arm en iets drup uit ‘n bottel wat onderstebo bokant hom hang. Hulle is in ‘n kliniek of hospitaal.

     Hierdie keer kry hy dit in Engels reg:

     “Beautiful lady.”

     Nou huil en lag sy.

     Hy wil aan haar raak, maar sy arm is aan die bed vasgeboei. Murungu save me, gaan die chombas se hel nooit ophou nie?

     In sy rondawel onder ‘n reusagtige bloekom word sersant Harry Wallace-Harrison kwaad wakker. Hy moes dit nie bloody toegelaat het nie. Dit was bloody dumb van hom. Hy moet  die fout immediately gaan regstel. Hy sukkel met sy boeppens uit die bed, kry sy service revolver voor hy enigiets anders doen, en maak seker dis gelaai.

     In die rooi voor dagbreek pak Sean McCullum en ses troepe die harde grond met pik en graaf. Hulle grawe reg langs haar ma se graf. Sy het gebloos as hulle haar tease.

     Dis al klaar warm. Gaan dit nooit weer in Kenia reën nie? Die grond skok soos yster. Die korporaaltjie, spierwit en net sening sonder sy army-hemp, por sy manne met ‘n string swetswoorde aan. Hy weet Corrie lê onder ys in die pastorie se kelder en Izak Vogel is naby aan klaar met haar coffin, hy en die ou Cape rebel en James Kerwin het dit laasnag uit ‘n pear tree begin maak. Hy weet ook Kleinhanna het dwarsdeur die nag vir hulle koffie aangedra.

      Blimey, sy het die slang met ‘n Luger doodgeskiet. Jy moet bloody close wees om met ‘n German pistol raak te skiet. Hy weet nie van ‘n girl back home  wat dit sou waag nie. Hy weet ook nie van ‘n girl so beautiful soos Kleinhanna toe sy in die firelight langs haar sussie se body kniel nie. His heart ached for her.

     Sean McCullum het om twee redes as army volunteer Kenia toe gekom. Eerstens was daar niks wat hom in Manchester kon hou nie, sy pa en ouer broer is in die Tweede Wêreldoorlog dood en sy ma het met ‘n drunken bastard loop staan en trou. Tweedens het hy die boeke van Tarzan the Apeman al op skool ontdek, van toe af is Africa the land of his dreams.

     Hy het nooit gedink dit gaan ‘n Mau-Mau nightmare word nie.

      Sersant Harry loop in die vroegskemer polisiestasie toe. Dis ‘n paar honderd treë, maar halfpad soontoe haal hy klaar moeilik asem. Bloody hell, how did he get so unfit? Hy besluit net daar hy gaan minder beer guzzle, minder fat meat eet, maar nie vandag nie. Vandag moet hy eers sy stupid bloody bugger-up gaan regmaak.  

     Die son kom op terwyl Sloet en Kerwin agter ‘n granaatbos in die pastorietuin staan en fluit. Kerwin se straal is sterker as Sloet s’n, hy ly nie aan ‘n oumansklier nie. Om hulle lyk die tuin nie erger as gister nie; die nagdiere het vir ‘n verandering weggebly.

     “Die gekap en gehamer,” mompel Sloet.

     “What?” vra Kerwin.

     “Als wat kruip en klim het laasnag uit die tuin gebly.”

     “Was ons so noisy?”

     “Sakkie en sy harde peerhout. Hy dink dit gaan vir ewig hou.”

     “Ek het Meisie in pine wood begrawe,” sê Kerwin.

     “Anet ook,” sê Sloet. “Sy’t geglo niks ruik so lekker soos ‘n dennebos nie.”

     “Jy weet jy moet die diens lei.”

     “Ek’s nie ‘n predikant nie, James.”

     “Oh my word, jy’s haar oupa. Sakkie gaan knak, jy weet dit.”

     “Ek’s nie goed met bid nie.”

     “Don’t look at me, Steenkamp, ek weet nie wanneer laas ek in ‘n Bybel gekyk het nie.”

     “Nou wens ek PJ Buys was hier. Hy bid sommer vir die seer lekker.”

     “Wat van Emma?”

     Sloet frons. “Vroumens doen ‘n begrafnis?”

     “Predikant se vrou, Becky sê sy preek in hulle kerk.”

     “Bloed, jy’s reg. Kom ons praat met Sakkie.”

     Aggie help Sakkie om die peerhoutkis olyfolie te smeer. Hulle het dit met Hanna se kis ook gedoen. Dit hou glo wurms weg. Die vroeë son begin by die stoorvenster inskyn en dit laat die voltooide kis gloei.

     “Jy moenie daai arm seermaak nie,” sê Sakkie.

     “Se gat, jy gaan dit nie alleen olie nie,” sê Aggie.

     “Jy moes nie op daai trein geklim het nie.”

     “Dan was Sarika nie nou hier nie. Karimi of sy pel sou haar kop afgekap het.”

     “Hoe seker is jy hy’s ook dood?”

     “Kan ‘n mensgoed lewe as hy in ‘n treintonnel vasduik?”

     Sakkie aarsel, knik. “Ja, orraait, jy’t die regte ding gedoen. Hoe lank wil julle hier bly?”

     “Ek weet nie, verdammt, sy hou aan sê sy moet haar man se as in Mombasa strooi.”

     “Ek kan jou rekord ook opgeskort kry, tien teen een. Die polisie moet in ‘n emergency vir die Generaal luister.”

     “Wat gaan ek hier maak, Sak? Boergoed gaan nie vir ‘n woestynbaster luister nie.”

     “Hulle sal  vir die Namib se beste spoorsnyer.”

     “Wie’s dit? Ken ek hom?”

     Sakkie se glimlag is te seer, krimp vinnig. Hy gee ‘n tree agteruit, hou sy olielap met altwee hande, bekyk die kis asof hy met die skrynwerk fout soek.

     “Sy was so bleddie klein.” Daar is ‘n diep kraak in Sakkie se stem, maar hy huil nie.

     Aggie is die een wat met die duimkussing van sy gesonde hand aan sy oë druk.

     Sersant Harry sit in sy Landrover en wag vir sy useless bleeding driver. Hy is nie net woedend nie, hy haat homself. That bloody army Lieutenant with the curly hair! Becky Johnson bloody Cloete! Sy het laasnag so sensible gepraat, hom so relieved laat voel. Hy het sommer die Mau-Mau se cowboy boots ook laat haal. Sy het die messy bugger-up met die intrapslag verstaan en die bugger-up met haar Landrover weggevat, local clinic toe. That Njambi niece of Jomo Kenyatta het hom amper sy promotion gekos. Maar vanmore, toe hy in sy rondawel wakker word, a very unpleasant thought hit him like a bullet: Hy het al weer teen die bleeding army verloor!

     Dit mag nie gebeur nie. Karimi Job is sy prisoner. Hy gaan hom uit die local clinic haal en terugsleep waar hy hoort, agter bloody tralies. Emergency be damned, ‘n Mau-Mau moet hang.

     PJ Buys moet toustaan om op Beaufort-Wes se stasie van die trein af te klim.  Niemand help hom met sy bagasie nie. Boere regeer wel nou die land, maar die donners bly slapgatte sonder maniere. Sy geliefde volk vir wie hy sy bloed wou

stort, en nog steeds sal stort.

     Dis klaar warm. ‘n Vurige wind kom uit die Karoo se oond en verskroei alles. Die grasperk voor die ou kerk is geel gebrand. Die lug is ‘n seerblou afgrond waardeur yl streepwolke waai. Hekse-met-besems, noem die Karooboere dit.

     Gelukkig is Kaatjie-hulle se woonstel naby die stasie. Hy is nat van die sweet en sy bene bewe van bagasie dra, maar hy staan nietemin nog toe hy aan die woonstel klop.

     Daar is nie mensmis op die mat voor die deur nie.

     Terwyl hy wag, besef hy iets wat hom wil laat proes. Hierdie peinsende Christen is sowaar bang vir die vrou wat die deur gaan oopmaak, die vrou met wie hy geleef en gevry het, saam met wie hy die pragtige Kaatjie en wreed oorlog gemaak het. Hy is bang Anke vloek en gil as sy hom sien. Dit het al gebeur en hy weet nie of hy krag daarvoor het nie.

     Die deurgrendel skuif. Hy plak ‘n stram glimlag op sy gesig, hoop dit lyk vriendelik. Die deur gaan oop.

     PJ Buys is nie kort nie, Anke ook nie. Hulle kyk mekaar in die oë. Syne wil vriendelik wees, hare is vol trane. Dit het hy beslis nie verwag nie.

     “Kaatjie het gebel,” fluister sy.

     “Wat is dit? Was ist passiert?”

     “Corrie.” Dis al wat ‘n stukkende ouma sê voor sy rukkend in sy nek kom huil.

     Almal is gereed om kerk toe te ry, korporaal Sean McCullum en sy troepe ook. Emma het haar Bybel en gesangeboek saam, sy lei die roudiens. Sy weet van haar gemeente sal ook daar wees. Sloet, Kleinhanna, Kerwin en Sarika ry by Maggie in haar groot kar.  Becky het verskoning gemaak; glo iets dringend wat sy vir die Generaal moet doen.

     Die nuwe doodkis skyn warm agterop die Ford-trokkie. Aggie sit by die kis sodat dit nie rondgly nie, sy Fedora-hoedjie so skoon geborsel jy ruik net bensien.

     “Ek wil dryf.” Sakkie vat die Ford se sleutel by Kaatjie.

     “Ek ry saam met jou.” Sy vra nie, sy sê hom.

     Maar toe sy langs hom probeer inklim, sit die vergete teddiebeer lewensgroot waar sy wil sit en agter die stuur kyk Sakkie geskok na haar.

     “Wat de hel, Kaatjie.”

     Sersant Harry en drie konstabels klim voor die kliniek uit. Dis ‘n eenvoudige maar netjiese baksteengebou, wit geverf. ‘n Lang ry local population wag by die pilvenster. Daar is geen teken van luitenant Becky Johnson-Cloete se Landrover nie, sy het Jomo Kenyatta se bleeding niece seker ‘n lift hof toe gegee; dit beteken nie sy het Karimi Job sonder ‘n armed guard hier gelos nie. Sersant Harry en sy manne klim met wapens in hulle hande uit. Die mense in die piltou kyk hulle agterdogtig en onrustig aan.

     Dit moes sersant Harry bloody well verwag het: die Kikuyu nurse by die reception kan skielik nie die Queen’s English praat nie.

     “Bloody hell,” grom hy en loop verby reception die saal in. Elke wit bed het ‘n black patient. Karimi Job, terrified and clean in a hospital frock, arms covered in plasters and bandages, is in die eerste bed van die entrance af.

     Sersant Harry weet hoekom: Becky bloody Johnson-Cloete het die Mau-Mau in die eerste bed gesit sodat die ander pasiënte nie in ‘n crossfire beland nie. Sy staan tussen die polisie en Karimi se bed, rig haar service revolver presies op sersant Harry se hart.

     “What a lovely surprise,” sê sy. “Did you leave the Get Well flowers in the Landrover, Sergeant?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Buy Me A Coffee
If you like my stories please feel free to buy me a cup of tea the $2 is equivalent to R38