HOOFSTUK ELF
“Yet who would have thought the old man to have had so much blood in him?”
Lady Macbeth
Willy sien sy mum hang wasgoed agter die krot in Bridlington op, en sy wieg asof sy na dansmusiek luister, haar rug na hom toe. Hy hoor net die seagulls en golwe teen die wit kranse bokant die North Sea. Sy darling mum weet nog nie haar enigste is terug nie. Blimey, hy gaan vir haar smelling salts moet kry as sy sien hoeveel presents het hy gebring en geld ook, bloody sack full of copper shillings, sy hoef nooit weer posh cows se bleeding bloomers te was nie.
Toe kyk sy mum om na hom en sy is Izak Vogel.
Hierdie keer pie Willy net in sy broek, en nie te bad nie; hy knyp darem betyds voor ‘n skandvlek hom weer soos ‘n nancy voor Emma Bakker laat lyk. Sy kyk om Izak Vogel se skouer na die leiklipvloer waarop Willy sit. Die beautiful Purdey in die groot koffieboer se aapklou kyk ook met both barrels na hom. Dis die shotgun wat Willy se blaas die ergste prikkel. Hy het al gesien hoe lyk die gesig van ‘n suicide wat gedink het hy gaan met ‘n shotgun baie sympathy kry, toe puke sy widow lustig haar hart uit.
En daar is iets in die manier waarop Emma Bakker hom aankyk: bugger me, sy voel sleg en skuldig. Oh aye, Church of England, maak nie saak onder watse tree bid hulle nie, bible punchers is altyd Church of England en bang hulle gaan hell toe.
Emma Bakker vra kortaf of sy vir hom water kan bring.
Vogel stel kalm voor sy wag tot Constable Willy verstaan wat hy moet doen.
Constable Willy verstaan glad nie, sy nek voel af en hy vind dit all a bit too much dat Vogel hom aanrand en nog orders ook uitdeel.
Vogel verduidelik dis net een order. “You’re going to call Sergeant Harry. You can’t find Missus Bakker, orright? You want to keep on looking for her. And for me. You think maybe she’s hiding me with a neighbour.”
“Or up at the church,” voeg sy gedemp by.
“Or up at the church,” knik Vogel. “You will call the police station if you need help, orright?”
Willy vind dit nie orright nie, trek los met ‘n firm suggestion wat die woorde bleeding tosser bevat. Die koffieboer klap hom met ‘n plathand so hard dat hy nog ‘n few drops in sy broek los.
Dit lyk of die taxidrywer doelbewus mik en hy mis net-net sy teikens wat oor Nairobi se strate krioel, mens en dier. Maggie gryp bietjie harder Sloet se arm as wat nodig is. Hy voel hy is nog nie reg om sy Skepper te ontmoet nie.
En hy verskil van Maggie toe sy die drywer ‘n hele sjieling by die karplek gee, voel die satang verdien eerder ‘n snotklap. “Het Harald geweet jy gaan sy geld weggooi?”
“Oom Sloet.” Sy klap haar tong asof hy stout is, haak by hom in toe hulle tussen die karre deurloop.
“Goods morning, lady and gentleman, hows may I be of service?” ‘n Gediertetjie in ‘n hemelblou pluiskeil, bloedrooi baadjie, grasgroen hemp en kotsgeel flanelbroek wapper nader. “Looks at this one in a million deal, we gots here for you this Chevrolet Lefthand Drive almost new, nice price, ready to ride.”
“Jy bedoel my Chevrolet.” Maggie trek haar neus soos ‘n tier s’n.
Iewers in die bont gewaad hou ‘n klein maangevreetjie op met glimlag. “Ah, yes, of course, sorry, Missus Groundlinks?”
“Grundling, jou heiden. This is my husband. Give him the keys.”
Die maangevreetjie draai na Sloet en kyk op. En op. Hoër op. Totdat die bont Dawid uiteindelik in Goliat se koue glimlag vaskyk en besef al is Goliat hoe grys, daar is nie ‘n slingervel en klip wat hom sal keer nie.
“I gots the keys right here,” piep dit.
Daar is ‘n telefoon in PJ Buys se hotelkamer. Dit laat hom vermoed konings het regtig in die Stanley geslaap. Hy peuter nuuskierig en ‘n Engelse vrou praat, kan sy hom met ‘n nommer help? Hy vermoed Kaatjie wil weet hoe vorder sake en gee al nommer wat hy ken, die woonstel in Beaufort-wes, Unie van Suid-Afrika. Die stem waarsku there will be an additional charge. Hy voel dan moet Sloet se Auntie Jailbait maar die kruis dra. Die stem belowe sy bel nou terug. Sy hou haar belofte, ‘n kwartier later, en sit hom deur. Hy verwag Kaatjie gaan antwoord, dit is al na skool.
“Anke Buys.”
Die stem slaan waar dit die seerste maak en hy klop sy baadjiesak vir pyp en twak, nuttelose ou gewoonte wat net rou senuwees wys. “Anke Kreisler Buys, wie gehts?”
“Sehr gut, Petrussie.” Sy klink te soet, ‘n oorryp turksvy vol dorings. “Elke dag beter en beter. Niemand verneuk my nie.”
“Kan ek met Kaatjie praat?”
“Katrina is bank toe. Het sy jou nie gebel nie?”
“Hoe kan sy? Sy weet nie waar ek is nie.”
“Sy’s op pad Kenia toe. Is julle by die predikant se frau?”
“Verdammt, Anke! Wat vang julle aan? Wat kom maak sy in Kenia?”
“Wat dink jy kom maak sy? Iemand moet die dogters huis toe bring, niemand anders doen dit nie. Is julle by die predikant se frau?”
“Nee, ons is by die Stanley in Nairobi. Dis ‘n hotel.”
“Meine gute, die ryk wedevrou bederf julle omtrent. Wat presies gee julle haar?”
“Niks! Jy het vroetel op die brein!” En hy smyt die foon neer, sak terug op die bed, lê en wag dat sy maag ophou bewe.
Na aan die suidpunt van Afrika, waar die warm Karoowind sand oor ‘n sinkdak strooi, loop Anke Kreisler Buys deur haar woonstel in Beaufort-wes, gaan klim in die bed en draai haar gesig na die muur. Die wind hou aan huil.
Die bloed is swart, want die kiekies het nie kleur nie. Die bloed lyk soos skaduwees op die lyke en die grond om hulle. Van die kiekies is so vol skaduwees Kerwin kan nie die lyke mooi uitmaak nie, tot sy verligting ook nie altyd die wonde nie.
Hy vra die generaal hoeveel is dood in die aanval.
Die generaal lees ‘n handgeskrewe nota. “Fourteen. Patrol thought they’re looking at a quiet night, just one attack. Turned out the same gang attacked nineteen farms, the fourteen became three hundred and forty people murdered and mutilated. Mostly old people, grandparents visiting or living with; don’t read too much into that, old people are simply easier to kill.”
Kerwin frons. “Some of these bodies…I’m not mistaken these are cows, am I?”
“Ah yes, forgot to mention that. The figures don’t include the cattle and goats slaughtered, even bloody chickens, hundreds of them.”
Hulle is in die generaal se veldkantoor op ‘n sokkerveld buite Nairobi, ‘n kokende tent met ‘n plastiektafeltjie, twee stoele en ‘n opslaankaart wat masels het van al die rooi moordtonele. Die generaal laat Kerwin so aan sy wicked old dad dink, lankal op army pension in Engeland, dieselfde vaal snorretjie, astrante bakore en bruingeel nikotienvingers.
Kerwin leun vooroor, skuif die kiekies op die tafel asof hy aan ‘n puzzle bou.
Die generaal rook ‘n sigaret, wag.
“If it’s about land as the papers claim, why aren’t the Mau-Mau just targeting the farmers and their workers?” mymer Kerwin. “Why kill the good meat, sir?”
“Thank you, Captain. Dad said you could always see the problem behind a problem. This is what London can’t understand, we need your thinking because we understand riots and farm murders, but livestock and chickens make no bloody sense. They’re destroying their own food source.”
Kerwin knik ingedagte. “I’m afraid it’s happening down in South Africa as well.”
“Same story in Tanganyika and Uganda, Captain. I see your government calls it scattered incidents, can’t possibly be Mau-Mau inspired, too far away, your mine workers are too busy digging gold.”
“No-one really has the answer, sir. I believe we’ll find it when we find whoever is behind the attacks.”
Die generaal glimlag wrang. “East Africa Command can do without James Kerwin. Really? Blast those idiots in London, we’ll have you kitted out and bunked down in no time, won’t we, Lieutenant?”
Hy praat met die offisier wat in die tent se oop bek wag. Sy kap haar stewels in die kort sokkergras, geel krulle wip en weier om onder haar pet te bly. “Yes, sir, of course, sir.”
Kerwin het al vroumense in uniform gesien, deesdae ‘n paar met rang ook. Hy neem nie eintlik notisie van haar nie. Dis ‘n ontsaglike fout: Luitenant Becky Johnson-Cloete, nege en veertig maar lyk jonger as jy die grys in die geel krulle oorsien, gaan James Kerwin se lewe drasties verander.
Kaatjie kom van die bank af en bel onmiddellik die pastorie in Kenia. Weer geen antwoord. Verflucht! Sy het dit gewaag om al haar spaargeld behalwe een pond te trek. Dit sal hopelik genoeg vir vlieg en ‘n pak grondboontjies wees. Maar sonder gereelde etes en ‘n bed in die pastorie gaan sy haar agterent sien as Mutter nie die skildery se voorskot kry nie.
Waar neuk Emma Bakker so rond vandag? En waar is Sakkie se dogters? Hoekom antwoord hulle nie die pastorie se foon nie?
Sy hoor die wind buite maar kom agter dis stil in die woonstel.
“Mutter?” vra Kaatjie die stilte. “Waar’s jy?”
Konstabel Willy bestuur onwillig die polisie se Landrover, Sakkie en die Purdey oorgehaal langs hom. Emma volg met Sakkie se Ford-bakkie, die dogters voor langs haar. Sakkie het Emma in beheer van die Luger gelos.
Die plan is om die bakkie op die koffieplaas te los asof dit nooit weg was nie. Emma en die dogters vat dan haar Ford Prefect terug pastorie toe en bly daar asof hulle ook nooit weg was nie. Sakkie en sy onwillige drywer soek verder na Aggie. Die soektog moet by die grot begin, die spore sal sweerlik iewers in die veld doodloop en hulle gaan tien teen een padlangs moet vra of ‘n trop Mau-Mau en ‘n bruin man vas met rieme of toue hier verby is.
“Really? Just like that? What if your brown mate isn’t really a Mau-Mau prisoner?”
Sakkie stel voor hy hou sy mond.
Willy vind dit staggering hoe stupid Vogel se plan is. Sergeant Harry gaan nie koop Vogel het Emma Bakker en sy dogters by die pastorie gedrop, na die naaste stasie geloop en ‘n trein land-uit gehaal nie. Sergeant Harry gaan definitely nie koop Willy is buggering around the coffee district oor hy dink ‘n ander coffee farmer steek Vogel weg nie.
Sakkie dink self nie die plan is prima nie, maar dis al wat plan wat hulle het en een pynlike waarheid brand halfkrone in sy boude: Die Here gaan hom seer straf as hy weghol sonder om te weet wat het van Aggie geword.
Jy kan hom net sowel vra om op te hou asemhaal.
That’s actually a matter waarmee Willy graag wil help, as hy net ‘n bleeding kans kan kry om die shotgun af te vat.
Almal in die bende wil skiet, Aggie laat net een op ‘n slag probeer. Hy glo nie hulle god Murungu beskerm die wit berg en eet die klank van geweerskote nie. Te veel van ‘n skietery en die polisie hoor, dit staan feitlik in die Bybel.
Die skietles sukkel, want daar is nie ‘n mond vol bruin tande wat nie kou nie en magic Miraa werk nie regtig soos ‘n bril nie. Aggie kou niks. As hy buk met ‘n geweer wil sy kop afval en wegrol. Hy voel so goor hy kan nie glo hy het soveel Khat-blare gekou nie.
En miskien, net miskien as hy sy kop skoon hou, kry hy iewers weer ‘n kans om van hierdie mensgoed af weg te kom.
‘n Skoot klap skielik. Daar moes nie nou ‘n skoot geklap het nie.
Aggie weet oombliklik iemand het ‘n geweer gevat wat hy nie moes gevat het nie.
Dis arrogante Mutugi, die man met die gesnyde gesig. Hy staan en hou ‘n ou Lee-Enfield verkeerd vas, staar skuldig na Karimi wat plat op die sneeu gaan sit en die wit om hom begin rooi word.
Almal tree bietjie weg van Karimi af.
“Mutugi,” hyg Karimi asof die naam ‘n vloekwoord is. “You are killing me.”
Aggie kyk waar het die skoot getref. Bors. Miskien praat Karimi die waarheid.