HOOFSTUK EEN

“Murder is like potato chips; you can’t stop with just one.”              

Stephen King

Die datum is 14 Februarie 1952.

Sover die warmste nag van die jaar in die koffieboorde van Kenia. Die vurige hitte hou almal wakker, die koffieplukkers in hulle hutte sowel as die koffiebase in hulle plaaspaleise. Die plukkers kla natgesweet in Swahili, die base in Engels en in ‘n paar gevalle Afrikaans. Almal wat vee besit hoor hulle beeste, skape en boerbokke onrustig raak, maar dit klink nog nie so erg dat dit agterdog wek nie. Die diere kry seker maar net warm.

Dan sluip skaduwees die veekrale in, gewapen met kapmesse wat maanlig weerkaats. Iemand het ook ‘n spies, sy maat ‘n pyl en boog. Daar word gespanne gefluister in Kikoejoe, soms laf gegiggel. Monde beweeg soos daar aan die blare van die khat-boom gekou word; hier noem hulle dit Miraa, die droomsap wat jou van jou sorge laat vergeet, jou vreesloos en moorddadig maak.

Die kapmesse flits, die spies en ‘n pyl vlieg, die bloedbad begin.

Die vee word nie doodgemaak nie. Hulle word afgryslik gemartel. Die pyl steek uit ‘n koei se oog, die spies uit ‘n skaap se keel. Pote en uiers en pense word oopgekap sodat die diere gillend van pyn uit die krale breek en koffiebome vertrap om vol bloed en mis verby hulle eienaars se wonings te storm.

Sodat die eienaars die foltering moet aanskou.

En die boodskap moet hoor voor die kapmesse hulle ook vermink.

“Mau! Mau!” bulder die aanvallers, ‘n Kikoejoe-woord wat onder andere “Uit!” beteken. Die boodskap is duidelik: Uit ons land uit!

Bloed dam op in die vore tussen die koffieboorde. ‘n Paar skote val maar die oormag is te groot. Plukkers en hulle base word onthoof, verkrag, doodgemartel. Die kapmesse werk hard in die maanskyn.

Die datum is 14 Februarie 1952, Valentynsdag.

Dis elke more dieselfde storie. Die matrone van Huis Harald Grundling is al gewoond daaraan. Die twee bejaardes loop voor ontbyt in die ouetehuis se tuin en gesels lekker, lag af en toe, maar dan begin hulle weer die oorlog baklei. Die stemme word harder, dra ver.

“Ons kon nie wen nie, Sloet. Daar was te veel hensoppers en hanskakies.”

“Bloed, jy lees te veel boeke, PJ Buys. Ons het teen die Kakies se geld en hulle duur skietgoed verloor.”

“Jy weet, ek moes jou op Sint Helena nie eers gegroet het nie.”

“Ek moes ver om ‘n stuitige skoolmeester geloop het.”

Matrone kyk deur haar kantoorvenster, sien hoe skud Sloet Steenkamp sy grys kop met die alewige pet en PJ Buys krap vies aan die ou bajonetwond in sy wit baard. Die twee dra net behoorlik hoed as hulle kerk toe gaan.

“Daar stry hulle al weer,” sug sy.

“Dis daai PJ Buys,” snork Magda Grundling, besig om vandag se pos oop te maak. “Hy weet mos altyd beter as oom Sloet.”

Oom Sloet. Sy is self nie meer ‘n kind nie.

Almal op Laingsburg ken Magda Grundling as tant Maggie. Sy help nie net met die pos nie; sy is Huis Harald Grundling se beskermengel, die ryk weduwee van die wynboer na wie die ouetehuis vernoem is. Sy het ‘n sagte plekkie vir oom Sloet in haar groot hart. ‘n Baie sagte plekkie. Sy is maar sestig en hy diep in sy sewentigs.

PJ Buys noem haar Auntie Jailbait. Hy lees Engelse boeke en kyk graag cowboy-films in die bioskoop op die dorp. Sloet ken nie woorde soos jailbait nie, lees op sy oudag net die Woord en verstaan nie hoekom PJ Buys in ‘n donker plek wil sit en kyk hoe jaag waterhofies koeie met perde aan nie.

Ontbyt gebeur altyd in die eetsaal onder ‘n eienaardige portret van wynboer Harald Grundling. Dit lyk of hy voor die kamera ‘n beroerte gekry het.

PJ Buys kom sit aan om te eet, Sloet bly staan en gluur sy bord aan.

“Daar is ‘n blom op my bord,” kondig hy aan.

“Dis ‘n roos. Iemand wil sowaar nog jou Valentine wees.”

“Watse twak praat jy?”

“Dit was gister 14 Februarie, Sloetie. Happy Valentine’s Day.”

“Ek weet van Valentine’s Day, ek was tot standerd agt in Paarl Boys High. Maar moet ons nou als wat Engels is vier?”

PJ Buys lag sag. “Hoe oningelig is jy? Auntie Jailbait is agter jou stoflike oorskot aan.”

Sloet haak sy pet aan die stoel voor hy sit, verwyder die roos en plak dit langs die gesnyde brood neer. “My stoflike oorskot is nie op die mark nie.”

“Jy weet tant Maggie kan Meintjiesfontein vir jou terugkoop, dan kan jy in haar koelte sit en weer skape tel.” PJ Buys voel die gevaar voor hy dit op Sloet se gesig lees. “Hierdie peinsende Christen het nou te ver gegaan, ek vermoed dis die verwysing na jou plaas, haar lywige hoedanigheid het jou nog nooit…”

“Hou op mors met woorde.” Sloet laat sy woorde soos ‘n sweep klap. “Of ek gaan eet by ‘n ander tafel.”

“Ek sal die tydjie alleen waardeer.”

Sloet buig sy hoof in stilte. PJ Buys bid vinniger voor hy eet, prewel basies net dankie en gryp gou die broodkorsie.

Sloet kyk op en besef hy is beroof. “Ek moes jou in die Dorsland vir die kraaie gelos het.”

PJ Buys grinnik. “Ek moes die rooinekwagte vertel het jy wil dros.”

Maggie Grundling stap tussen besige tafels deur. Almal behalwe die ou dowes hoor tant Maggie aankom. Sy druk ‘n telegram teen haar buik vas asof dit vir sooibrand sal help.

Sloet en PJ Buys weet dis slegte nuus voor sy hulle tafel bereik.

Daar is ‘n nuwe teenwoordigheid in die begraafplaas, geliefdes wie jy nie met die oog kan sien nie. Die vars hopies grond tussen die grafstene wys dit.

Sakkie Vogel het sy vrou in die aanval verloor. Hanna, die ma van sy twee dogters wat gode zyn dank in Nairobi op kosskool was toe die kapmesse hulle werk begin doen het.

Hy gooi ‘n ontsaglike skadu op die hopie wat Hanna se kis bedek. Hy is ‘n reus van ‘n man, in sy laat veertigs nog steeds gespierd en fiks. Sy koffieplukkers noem hom Kifaru Mweupe, die wit renoster. By hom staan Achtung Sneller, sy regterhand en dieselfde ouderdom, ‘n taai stukkie biltong uit die Namib toe dit nog Duitswes was, so bruin soos ‘n gebrande koffieboon langs sonrooi Sakkie. Almal, die plukkers ook, noem hom Aggie.   

Hulle praat nie. As jy kon sien wat hulle alles saam gesien het, langs soveel grafte saam gestaan het, dan sal jy ook in stilte praat.  

Aggie het sy vrou na die groot oorlog tussen die Engelse en die Duitsers verloor; hulle kinders het elkeen ‘n eie koers gevat en die Snellers is nie briefskrywers nie, maar hy sien Sakkie se twee as sy eie en wens seer hy kon hulle hierdie hel spaar.

Sakkie wens hy kan sy dogters vanaand al Mombasa toe vat en op ‘n skip Kaapstad toe sit. Hier gaan nog bloed loop, die Mau-Mau gaan nie ophou voor hulle Kenia gevat het nie; hy en Aggie staan sowaar weer voor ‘n oorlog en Hanna sal hom nooit vergewe as haar kinders in die storm beland nie.

Hy hoop sy pa het die telegram al gekry. Sy pa sal weet wat om te doen.

Dit word donker buite, daar is ‘n briesie, mens kan weer asemhaal. Sloet sit teen ‘n berg kussings op sy bed want die alewige rugpyn is terug, dit maak so as hy slegte nuus kry. Hy praat met Annette asof sy in die kamer is. Die kanker het haar tien jaar gelede wreed gevat, maar as die nood druk draai hy nog maar na haar.

“Jy’t nie vir Hanna geken nie, Nettie. Sy was goed vir Sakkie. Hulle boer koffie in Kenia, ook maar onder die Engelse, maar hulle kon ‘n plaas amper verniet kry. Die Engelse weet ons weet van boer. Sakkie kan nie sy grond sommer net los nie. Iemand gaan na die kinders moet kyk, dis nie altemit nie. Ek weet nie hoe gaan ek dit doen nie. Help my.”

PJ Buys praat deur Sloet se deur. Hy het die kamer langsaan. Die plek is kamtig eersteklas maar sy mure en deure is dun.

Druk hier om die boek af te laai