SKRYF VIR TV

Les 4

Suspense and comedy are the most difficult of subjects. The reason is actually quite obvious. Suspense and comedy are basically the same thing.

Dit klink of Alfred Hitchcock, die meester van spanning (suspense) in rolprente en op televisie, ‘n paar doppe in het as hy so praat. Spanning maak ons bang, komedie laat ons lag, hoe kan die twee dieselfde ding wees?

Wag en wysheid sal aan julle gegee word. Ek gaan in ‘n ander les meer op komedie fokus, hierdie week noem ek dit net omdat dit in sekere opsigte die spieëlbeeld van spanning is. Julle weet komedie en klug is nie dieselfde ding nie? Dis waar, ek jok nie.

As ek Amerikaanse voorbeelde mag gebruik:

Friends is komedie. Dit laat jou lag met snaakse sêgoed en situasies. Dis menslik.

Dumb And Dumber is ‘n klug. Dit laat jou lag deur jou visueel te skok of te walg. Dink mooi voor julle hieroor wil verskil. ‘n Idioot wat aan ys wil lek en sy tong sit vas, is eers skokkend voor jy begin lag. En dan raak dit walglik. Dis onmenslik.

In die wêreld van spanning is daar ook twee soorte:

Silence of the lambs is hoofsaaklik ‘n spanningsverhaal.  Die hoofkarakter, ‘n jong meisie as speurder Clarice, volg leidrade wat die kannibaal Hannibal Lecter haar gee en ontdek byvoorbeeld ‘n stowwerige voertuig in ‘n donker garage. Ons begin bang word voor die kamera ons skok en walg met wat binne-in die voertuig is. Spanning maak jou bang.

Scream is ‘n skokverhaal. Jy kry nie eens kans om bang te word nie.  Die moordenaar is skielik agter die jong meisie, sonder waarskuwing. Die punt is om jou skrik te maak en dan te walg as die polisie haar lyk kry.

Orraait, fyn, daar is punte waar spanning en skok soms oorvleuel. ‘n Spanningsverhaal kan later in ‘n skokverhaal verander. As ek julle natuurlik moet leer hoe om mense te skok, dan is ek besig om ons almal se tyd te mors. Dis te maklik om mense te skok. Wys hulle iets onverwags en hulle is geskok, punt. Om julle dit vir TV skryf te wil leer, is ook ‘n vermorsing van tyd omdat sensuur op televisie sterker as filmsensuur is en julle gaan nie maklik met grusame tonele op TV wegkom nie. So kom ek gee liewer ‘n les oor iets wat julle met vrug kan gebruik.

Kom ons kook ‘n potjie spanning.

Spanning en gevolg

Orraait, fyn, kom ons verbeel ons  eers ‘n prentjie en gevoel wat ons almal ken: Ons sit en wag in die eksamenlokaal vir die lektor of onderwyser om te sê ons kan die vraestel omdraai en die vrae begin antwoord. Wat ons op daardie oomblik in daardie eksamen beleef, is naakte spanning. Ons is speurdermeisie Clarice in Silence Of The Lambs en ons ontdek die stofbedekte voertuig in die garage en besef die donnerse kar staan al lank daar en binne-in is daar iets besonder erg wat al baie lank daar is. Spanning gaan altyd oor tyd: dit neem tyd vir die lektor of onderwyser om die vraestelle uit te deel. Hoe langer die tyd korrek uitgerek word, hoe groter die spanning.

Dus: die belangrikste bestanddeel van ons potjie spanning is korrekte tydsverloop. Hoe lank dit Jodie Foster in die rol van Clarice vat om daardie garage te vind, die garage se deur en dan die stowwerige voertuig oop te kry. Die korrekte hoeveelheid tyd. So jy, arme skrywer, moet sorg dat Clarice sukkel om die regte adres van die garage te kry, die regte sleutel vir die garage se deur, en dan hoe om die stofbesmeerde voertuig binne-in oop te maak. Jy, die skrywer, kan natuurlik die hang van tyd so geniet jy begin kwaai droog maak: jy laat dit te lank aanhou. As spanning die sout as bestanddeel is, gooi jy nou te veel sout in jou potjie: jy bring byvoorbeeld ‘n nuuskierige buurvrou op die toneel, sy wil weet wat de vloek soek Clarice hier. En weet jy wat doen die kyker van jou storie op daardie oomblik? Sy of hy besluit dis nou ‘n goeie tyd om te gaan piepie.

Ek belowe julle: as ‘n spanningstoneel regtig korrek werk, pie ‘n erg betrokke kyker eerder in sy of haar broek voor die toneel klaar is.

So sê julle nou Alfred Hitchcock was verkeerd? Spanning is nie snaaks nie?

Kom ons vergelyk ‘n suksesvolle spanningstoneel soos die garage-toneel in Silence Of The Lambs met ‘n komiese toneel in Friends wat as baie suksesvol beskou word. Die aktrise Jennifer Aston as Rachel wil dringend by die lughawe kom om te keer dat die akteur David Schimmer as Ross na sy huwelik in Engeland vlieg; Rachel moet hom vertel sy is lief vir hom, hy moenie met daai Engelse tert gaan trou nie. Allerhande dinge gebeur met Rachel op pad lughawe toe, snaakse dinge, maar die kyker se maagspiere begin naderhand saamtrek van die spanning:  Gaan arme Rachel betyds die lughawe bereik voor Ross op die vliegtuig klim?

Nee, Alfred Hitchcock was nie verkeerd nie: goeie komedie is goeie spanning.

Maar kom ons bly by spanning skryf, die maak van die potjie. Die ander belangrike bestanddeel is die karakter met wie die spanning gebeur. As ons dink aan ons ervaring in die eksamenlokaal, dan is dit ons wat wag om die vraestel om te draai, ons verbeel ons nie ons is iemand anders nie. In draaiboektaal noem ons dit POV, Point Of View. Ons wil nie ‘n vreemde se POV hê nie, dit moet ons s’n wees, en in ‘n storie is ons die karakter met wie ons die sterkste identifiseer.  As ek weer Silence Of The Lambs mag noem: sê nou dis ‘n nuuskierige buurvrou wat die grusame ontdekking in die garage gaan maak en nie Clarice nie…sal ons hoegenaamd gespanne daaroor raak? Wat voel ons vir ‘n vreemde vrou se senuwees?

Spanning kan natuurlik met meer as een karakter gebeur. Dit mag ‘n groep wees vir wie ons lief geraak het, ons gaan vrees iets lelik kan met een van hulle gebeur. Maar wees gewaarsku: ‘n Groep kan ook gevaarlik vir spanning wees, want ons kykers is oor die algemeen geneig om met een of uiters twee karakters te identifiseer. Sê nou jy kies ‘n groep van vyf of ses en jy laat die lelike ding gebeur met die een van wie die kykers die minste hou? Hulle gaan vere voel en dis bloot menslik.  In een van die suksesvolste films van alle tye, The Avengers: Endgame, laat die skrywer die gewildste superheld van almal na geweldige spanning doodgaan: Iron Man.

En ja, spanning kan faal as die gevolg daarvan nie werk nie. As iemand anders aan die einde van The Avengers: Endgame doodgegaan het, Iron Man se vrou Pepper pleks van Iron Man self, sou dit dieselfde wêreldwye reaksie van kykers uitgelok het? Pepper soos gespeel deur Gwyneth Paltrow is ‘n cute karakter, maar sy is definitief nie naastenby so geliefd soos Iron Man nie.

So dit help nie ons maak hierdie spanningspotjie sonder die belangrikste bestanddeel nie. En wat is die heel belangrikte bestanddeel?

Liefde.

Die kyker moet lief word vir die karakter wat in groot nood gaan beland.  Klink corny, maar dis waar: Liefde, omgee, is altyd die belangrikste bestanddeel van spanning.

Een laaste puntjie oor spanning voor ek groet. Ek wou dit eers nie noem nie, want ek glo julle weet dit reeds: Don’t do a spoiler. Hannibal Lecter vertel nie voor die tyd vir Clarice wie of wat is in die stowwerige blerrie kar nie, reg? Hulle begin nie in Friends komiese dialoog met die punch-line nie, reg?

Volgende keer, twee weke van nou af, gesels ons meer breedvoerig oor komedie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *