SKRYF VIR TV

Les 3

Voor ons met die les begin, laat ons net een ooglopende maar groot waarheid uit die weg ruim: William Shakespeare en sy gelyke het nie regte dialoog geskryf nie, hulle het prosa en selfs gedigte geskryf om as dialoog gepraat te word. Tensy jy satire skryf, bly asseblief ver weg.

En as jy die soort begroting het wat Sylvester Stallone of Tom Cruise kan kry vir ‘n aksiebelaaide fliek, moenie te veel oor dialoog worry nie, laat dit net die storie aan beweeg. Van daardie sterre brom basies net hul pad deur die tonele wat nie groot aksie behels nie.

In die wêreld van televisie, waar begrotings maar knap kan wees, tree dialoog in die kollig en dit moet soos ‘n juweel skyn of jy kan jou agterkant as ‘n draaiboekskrywer sien. Dis nou jou taak om met woorde eerder as daad te vermaak. Ek sê nie moenie enige aksie skryf nie, maar hou dit onder beheer, orraait?  Aksie vra dikwels vir asemrowende toertjies en ontploffings, en dit kos geld.

Die krag van dialoog

Orraait, fyn, ons weet almal wat dialoog eintlik is: Praat. Dit wat die ou stilflieks nie kon doen nie. En omdat hulle nie kon nie, toe klank uiteindelik arriveer is baie van die suksesvolle spelers van ou Hollywood op hul agterente uit, want hulle het gedink  wat de hel, dis maklik, laat die akteurs net gorrel. En gehore het vir hulle gelag, en nie op die regte plekke nie. Praat is nie gorrel nie.

Praat moet eg wees.

Toe klank kom, het Hollywood gedink hy het die antwoord: Kry verhoogskrywers, radioskrywers, hulle werk mos met woorde, reg? Dit was ‘n totale ramp. Lees asseblief hierdie toneel wat ek uit ‘n ou draaiboek gesneak het, dis geskryf vir ‘n Hollywoodfilm in 1930. Ek het dit vir julle gemak verafrikaans:

BINNE   VERDAGTE SE WOONSTEL   NAG

Wys ons die woonstel met ‘n ou seerower se skatkis wat as koffietafel gebruik word. Daar is aanvanklik niemand in die toneel nie. Privaatspeurder SAM MALONE en sy sidekick JERRY, op soek na leidrade, sluip die woonstel deur ‘n oop venster binne.

                                    SAM

    Kyk, hier’s ‘n ou skatkis.

                                    JERRY

    Goeie plek om te begin soek.

Kom ons hou sommer net daar op met lees. Wat is verkeerd met die dialoog? Sê dit hardop – altyd ‘n goeie ding wanneer jy dialoog skryf, dis veronderstel om gehoor te word – en onthou wat jy eintlik sien terwyl dit gesê word.

Ja, jy het dit: die probleem is die skatkis wat as ‘n koffietafel gebruik word. Sam vertel die gehoor wat hulle reeds self sien. Dit is radiodialoog, dikwels verhoogdialoog ook; radioluisteraars kan nie die toneel sien nie, teatergangers wat ver agter sit kan nie altyd sien wat op die verhoog is nie.

Ek is seker die gehoor – die kykers – het uitgebars van die lag toe Sam dit in die film sê, want dit het hom soos ’n idioot laat lyk. Persoonlik is dit hoekom ek verkies om KYKERS te dink as ek skryf in plaas van GEHOOR, want KYK herinner my daaraan dat mense gaan KYK wat ek skryf. Dit keer my om die radio- of verhoogfout te maak.

Daar is ander slaggate met die skryf van dialoog. Die volgende een noem ek Viewer Explaining. Verduidelik Aan Die Kyker. Kom ons kyk verder aan die ou filmtoneel met  Sam Malone en sy maat Jerry:

SAM en JERRY gaan deur die inhoud van die seerower se skatkis, haal

ou papiere en tekeninge uit. 

                                      JERRY

    Ou geskrifte wat skeepsgevegte om die Karibiese Eilande beskryf, kaarte van

    verlore skatte … kan wees waarna ons soek, Sam.

                                      SAM

    Ons sal die polisie moet wys, maar ek vermoed dit behoort

    aan die agterkleinseun van Blackbeard, die gevaarlikste

    seerower wat ooit op die sewe seë gevaar het.

Orraait, fyn, kom ons stop daar. Wat is fout daarmee? Alles. Sam en Jerry het so pas die ou skatkis oopgemaak en Jerry het al klaar die papiere en tekeninge opgesom voor hy dit behoorlik kon bestudeer. Sam identifiseer reeds die eienaar van die kis as die agterkleinseun van die seerower Blackbeard – genade, dis moeilik om te glo dit kom uit ‘n werklike draaiboek en dit is inderdaad verfilm. En tog het ek verlede week ‘n episode van ‘n nuwe TV-reeks gekyk, laat ons nie name noem nie, en in een toneel het die karakters amper net so erg aangegaan.  Een van hulle het ook kort-kort met homself gepraat, gedrogreëls soos “Ek dink ek beter loop” en “Ek stem nie saam met wat hier aangaan nie”. Weet julle wat wil ek doen as ‘n karakter so met homself begin praat? Ek wil die groendakkies bel.

Moenie daardie soort skrywer wees nie, asseblief. Jou loopbaan sal nie hou nie, glo my.

Kom ons praat oor goeie dialoog. Akteurs sê hulle weet dit wanneer hulle dit hoor, en dis baie waar. Dit kan dikwels vreemd op papier lyk; jy moet dit gewoonlik hardop sê om dit regtig te begryp – want dis nie eintlik bedoel om gelees te word nie, dit moet gepraat word, die manier waarop mense regtig praat, en dit beteken die grammatika en sinskonstruksie is nie altyd van die beste nie. Gebruik jy en jou vriende perfekte taal en grammatika wanneer julle gesels? Ek twyfel.

Beste oefening vir goeie dialoog skryf: Luister as regte mense praat, en luister regtig. Hulle herhaal hulself dikwels, maak nie sinne klaar nie, onderbreek hulself. Die ware wonder van goeie dialoog lê in die manier waarop jy regte praat trou met die storie-inligting wat jou kykers nodig het. Dit is nie maklik nie, ek is amper ‘n honderd jaar oud en ek sukkel soms nog, jy gaan baie moet oefen. Onthou: as dit maklik was, sou almal dit gedoen het.

Karakter-ID-dialoog kan nuttig wees, maar dit is nie altyd nodig nie. Dis wanneer ‘n karakter ‘n sekere gesegde het wat hy of sy geneig is om te herhaal. Kan baie effektief wees, ek en ouens soos Franz Marx en Jan Scholtz het al gesegdes geskep wat in die volksmond en op t-hemde beland het, maar mens loop die gevaar dat dit oordoen kan word.

Wees gewaarsku: Ware dialoog kan oordoen word, ‘n gebrabbel word. As dit gebeur, gaan jy jou kykers verloor, hulle sal nie verstaan ​​wat aangaan nie. Mik altyd vir die goue middeweg waar die dialoog belangrike storie-inligting kan deurgee, maar dit klink nog steeds soos regte praat.

Oor die ander uiterste, boekdialoog, hoef ons nie veel te praat nie. Dis ooglopend verkeerd vir speeldialoog. Baie boekskrywers se dialoog is basies net prosa in aanhalingstekens, regte mense praat nie so nie.

Hier kom die werklik moeilike deel: Hou jou dialoog kort. Kykers raak verveeld as dialoog te lank aanhou. Tensy dit natuurlik die punt van die dialoog is. ’n Komiese karakter met verbale loopmaag kan verskriklik snaaks wees. Maar wees versigtig, dis moeilik om te weet wanneer om te stop.

En ek gee nie om hoeveel bladsye dialoog jy vandag geskryf het nie, doen jouself en die werk ‘n guns: Sê dit hardop. Probeer om dit te speel. Kry iemand om die ander karakter te speel. Ek belowe jou die foute sal hulself openbaar. Ek het ‘n suksesvolle draaiboekskrywer geken wat  al sy dialoog op band gesit het en dit later teruggespeel het. So kon hy die meeste foute vang en doodmaak.

Onthou altyd, al laat ek dit dalk melodramaties klink: Regte dialoog is die juweel in die hart van ‘n goeie draaiboek, en dis bedoel om gepraat te word.