
“Ruik jy ook gas?” vra De-Bra terwyl ons sit en wyn drink.
“Ek het jou oond aangesit om die quiche warm te maak, dog dit werk met krag,” antwoord ek en begin net daar ‘n voorbode kry. Hier kom ‘n ding.
“Ai, vriendin,” sug sy, sit haar wynglas neer en verdwyn kombuis toe.
Die ding vat drie minute om te kom.
Die slag van iets wat in die kombuis ontplof is so oorverdowend dat ek ‘n halwe glas wyn in my eie gesig skiet.
“Ma se moer!” gil De-Bra en die volgende oomblik hol ‘n vreemde wese verby my en reguit badkamer toe.
Daai vreemde wese het dieselfde sweetpak aan as… iemand red my, dis De-Bra!
Ek droog my wyngesig met my hemp af en snol badkamer toe.
Nou kyk, my brein weet nie of dit my moet laat lag, huil of geskok by die voordeur uit laat weghol nie. My voete staan vasgeplak op die teëlvloer terwyl my tong in my mond rondsoek vir die regte woorde om te sê.
De-Bra sit in skok op die toe toilet. Haar ronde knieë bewe in gelid met haar ken. Sjym, man. Haar gesig lyk soos iets uit ‘n Van Gogh, hare wit geskroei en kroes gebrand tot amper op haar kopvel. Kom ons praat nie oor wenkbroue en wimpers nie. Plus haar gesig lyk soos die van ‘n girl wat sonder suntan oil gaan suntan het.
“Jy moet hospitaal toe,” prewel ek, my eie knieë nou aan’t bewe. “Kom!”
By Linmed word sy dadelik ongevalle toe gestoot. Ek toer saam, sy sê nie ‘n woord nie.
Ek ook nie, want ek het nou bang geword. De-Bra kan hard moer. En dis my skuld dat sy soos ‘n geskroeide steenkoolmyner lyk.
Later, terug by haar huis, tap ek vir haar badwater in wen help haar uittrek. Stort is uit totdat haar vel gesond raak. Haar gesig en hande is toegeplak met daai groen gaas. Dit laat haar soos ‘n well-done padda lyk, maar gelukkig is die wonde nie diep nie.
“Jy’s dood as my hande weer kan wurg,” belowe sy my deur stywe lippe. “Mors-fokken-dood!”
“Niemand het gesê jy moet jou kop in die oond druk nie,” kap ek senuweeagtig terug.
“Hoe anders moes ek die burner aankry, teef?”
“Het jy al ooit daai oond gebruik? Sover ek weet sit die burner se knoppie aan die buitekant.” My oë vernou terwyl ek haar uit haar t-hemp help. “Hoe het jy die blerrie oond aangekry?”
“Met ‘n lighter, hoe anders?” sis sy.
“In ‘n gas-oond? Is jy van jou trollie af?”
Sy kyk my middeldeur, ek sjaddap liewer en toets of die badwater nie te warm is nie. Toe trek ek die res van haar klere uit en help haar in die bad. Ek kry ‘n sagte spons nader sodat sy haarself kan seep…
O, my donner. Sy kan nie haar hande gebruik nie. Dit beteken mos…
De-Bra weet klaar wat pla my nou, ek kan ek die spot in haar oë lees.
Hierdie ware verhaal gaan oor my vriendin wat nie weet hoe werk ‘n gasoond nie, ek sal nie uitbrei oor bad en oral skoonkry nie. Ek wil nie eers daaraan dink nie, dankie.
Wat ek wel kan sê is: daai oond lyk of dit aan vetsug ly en uit sy nate gaan bars.
En dat ek De-Bra nou al vir drie dae oppas, sy is my maat en dis my plig, al wil ek soms gillend straat-af hol. De-Bra doen dinge anders as normale vroumense.
Dis ook my plig om vir haar ‘n nuwe stoof te koop. Die ding word môre afgelewer.
Sodra sy van die gaas en verbande ontslae is, en nie meer droom hoe vermoor sy my nie, sal ons begin worry oor nuwe wimpers en wenkbroue.