Die dorp bid al twee jaar lank vir reën.

          Toe die droogte op sy wreedste is, toe die boorgat in die ouetehuis se tuin ook droog raak en selfs die taaiste kannas gaan lê, gaan lê Baba Breytenbach een aand vroeg voor die agtuurnuus en word die volgende môre nie wakker nie. Sommer net so.

          “ Haar hart het moeg geraak, ” sê die dokter.

          Pieter, haar oudste seun, wil nie die lyk sien nie. Hy staan buite en skop-skop teen haar kar se wiele.

          “ Wat maak jy? ” kom vra sy jonger suster.

          “ Die hel weet, ” sê hy. “ Ma’t dit mos by Pa geleer, en hy’t nooit ‘n pap wiel gekry nie. ”

          Sy suster onthou nou, en begin huil.

          Baba word op haar oorlede man begrawe, onder die lang bome. So praat almal van die begraafplaas vir wittes teenaan die een kant van die dorp; massiewe ou bloekoms maak ‘n koelte oor die mooi skoon grafte. Die families van die oorledenes hou dit skoon; die munisipaliteit sal so af en toe ‘n troppie werkers met grawe en harke stuur, maar voor twaalfuur sit die werkers al en kuier in die kantien. Aan die ander kant van die dorp, waar ‘n klipperige stofpad twee kilometer verby Tietieskop doodloop, lê die begraafplaas vir bruin en swart – nog steeds, nog steeds; die wette het verander, nie die harte nie  – en die harde stuk aarde met sy rooi hopies klipgrond word weer die erdvarkgate genoem.  Dit pas.

          Die hele dorp kom begrafnis toe, die rolbalklub ook, en die Van Tonders van Renosterdrif, en die Donaldsons van Three Willows, en die Groenewalds van Osfontein, die Viljoens van Bokloop, die Kritzingers van Bronfontein, en natuurlik elke familielid van Baba Breytenbach wat nog nie dood of Nieu-Seeland toe is nie.

          Kortjas Uys en sy Cyril het saam met Bokkie en haar Hennie  gekom. Hulle staan maar eenkant, want Cyril is nie wit nie, en hy en Kortjas lyk maar oes na die lang siekte en dra dik serpe teen die wind. Kortjas is so maer sy groen en rooi onderbaadjie wapper soos ‘n vlag.

          By die oop graf lees Dominee uit Spreuke van die deugsame vrou wie se waarde ver bo korale is, die een wat sorg vir wol en vlas, en met gewillige hande werk. Hier en daar knik ‘n kop treurig. Maar toe hy die Bybel toemaak en sy gedagtes vrye teuels gee, en van Barbara Johanna Magaretha Breytenbach se sagmoedigheid en nederigheid begin praat, fluister Kortjas in Bokkie se oor: “ O koekerasie, is ons by die regte begrafnis? ”

          Sy susterskind glimlag terug, sien die wind het sy serp losgetrek en woel dit saggies om sy nek vas. Net Bokkie en Hennie Janse en die dorp se dokter weet wat hoe amper dood Kortjas en Cyril regtig was.

oOo

         ‘n Maand na die begrafnis, toe Kortjas die nuus aan sy bure kom oordra, is Hanna Coetzee besig aan ‘n impressionistiese portret van haar man, en Gert kriewel soos ‘n skoolkind wat wens hy het liewer vandag stokkies gedraai.

         “ Ek het die gastehuis verkoop gekry, ” kondig Kortjas aan, “ en Vrydag hou ons vendusie. Everything must go. ”

         “ Ag, al jou mooi meubels, ” kreun Hanna.

         “ Besittings behoort aan my, darling, ek behoort nie aan besittings nie. ” Kortjas sê dit soos ‘n rympie op. “ Van nou af gaan ek en Cyril vry wees, ons gaan die aardbol plat ry en kyk hoe doen die Grieke, die Franse en die Spanjaarde dit. ”

         “ Sit stil, Gert, o ek wens ek kon saam met julle gaan, ” sê Hanna.

         “ Ek ook, ” brom haar man.

         “ Wees julle net gereed om poskaarte te ontvang, absoluut ‘n sneeu van die goed. ”

         “ Asseblief, yes, one from every port, ” sê Hanna, “ maar julle moet nou nie vir ewig wegbly nie, die dorp gaan leeg wees sonder julle. ”

          Kortjas lag met sy heldergroen oë. “ Wees nie bevrees nie, ons sal terugkom, ek belowe. ”

oOo

          Bokkie en haar Hennie en Cyril se niggies sien die twee op De Aar se stasie af. Hulle bagasie staan ‘n toring, en Bokkie begin huil. Cyril en die niggies huil saam, Kortjas en Hennie probeer sterk wees.

          “ Kyk laat daai vet kat van jou nie my katte opvreet nie, ” glimlag Kortjas en druk Bokkie styf teen hom vas.

          “Oom-hulle gaan terugkom, belowe. ”

          “ Ek belowe, ” fluister hy.

oOo

          Twee weke later ontvang Hanna en Gert Coetzee die eerste poskaart: Haai julle twee! Hoop dit gaan absoluut ongelooflik met julle. Engeland se weer is agonie. Ons verlang na warmte. Cyril eet hom in ‘n size thirty-eight in aan junk food. Ek noem hom my vet feëtjie. Mis julle eina – liefde maal tien, Kortjas

         Gert bêre die Britse seël vir ‘n kleinseun wat seëls versamel.

          Vyf weke later ontvang hulle die tweede poskaart: Haai julle twee! Hoop dit gaan absoluut voor die wind met julle. Parys is magnifique! Ek en Cyril is absoluut infantiel oor Frankryk. Ek wens net hy wil ophou om so opgewonde oor Franse mans se smeulende oë te raak. Liefde maal ‘n honderd, Kortjas

          Dis ‘n mooi Franse seël, en Gert bêre hom versigtig saam met die Britse seël.           

          Skaars ‘n week nadat hulle die Franse poskaart ontvang het, daag daar ‘n Hollandse een op: Haai julle tweetjies! Hoop dit gaan absoluut hemels met julle. Ek glo nou die aarde is plat. Jy moet dit in Holland glo. Nie eens ons vlakste vlakte is so plat nie. Cyril stuur ‘n drukkie. Liefde maal twee honderd – Kortjas

          Gert wil die seël ook vir sy kleinseun bêre, maar besef dan dis ‘n gewone Suid-Afrikaanse seël. Hy wys dit vir Hanna.

          “ Dis snaaks, ” sê sy. “ Kan mens Suid-Afrikaanse seëls oorsee vat en dan jou poskaarte daarmee terugstuur? ”

          “ Ek dink nie so nie, ” sê Gert.

          Hulle kry eers Saterdag by rolbal ‘n kans om met Bokkie daaroor te praat. Sy luister met groot oë en gaan dan aan die huil. Hanna stuur haar aan haar arm dameskleedkamer toe sodat hulle alleen kan praat.

          “ Bokkie, ” sê sy, “ hy’s jou oom en ek weet jy’s lief vir hom, maar ons ken hom al so lank hy’t deel van ons geword – asseblief, ons sal nie ‘n woord sê nie, maar ons dink ons verdien die waarheid. ”

          Toe vertel Bokkie haar die waarheid. Kortjas en sy vriend Cyril is nooit oorsee nie. Hulle is maats met ‘n vlugkelner wat die poskaarte in ander lande vir hulle moes pos.

          “ Klink my die koffiemoffie het bietjie opgeslip. ” Bokkie probeer glimlag. “Oom Kortjas gaan lekker die moer in wees as hy dit hoor.”

          Hanna verstaan nou ‘n klomp dinge, wil nie glimlag nie. “ Dit was nooit Duitse masels nie, was dit? ”

          “ Nee.”

          “ In waai kliniek is hulle? ”

oOo

          Kortjas en Cyril hou niks van die privaatkliniek in Kaapstad nie. Na twee en ‘n half maande besluit hulle die behandeling maak hulle net moeg en huilerig. Hulle huur ‘n penthouse in Drieankerbaai. Dit behoort aan ‘n Duitser wat iets met Mercedes Benz te doen het en dit glo net in Desember gebruik.

          Met die intrap vind Cyril fout met die bouwerk – hy moan alewig oor ander bouers se werk – maar hy moet erken die plek is ruim en koel. Kortjas gaan wys hom die jaccuzzi. Dis so ontsaglik ‘n mens kan maklik ‘n swemgala hier hou, en uit die jacuzzi kyk jy deur ‘n muur van glas oor die see uit.

          Kortjas wil nie eet nie, Cyril ook nie. Hulle maak ‘n bottel Franse sjampanje ook. 

          Die jacuzzi is so wyd dat hulle langs mekaar in die bruisende water kan lê. Hulle lê en drink sjampanje en kyk na die see. Hulle praat oor die katte wat by Bokkie moes agterbly. Hulle verlang, raak weer huilerig en besluit dis die sjampanje se skuld.

          Toe sê Kortjas: “ Moenie vir my lag nie, daar’s iets wat ek van my hart af moet kry. Ek dink ek het uiteindelik die groot geheim ontdek. ”

          “ Waai groot geheim? ” vra Cyril.

          “ O koekerasie, daar is net een: geluk is nie ‘n lekker gastehuis in die Karoo of ‘n mooi penthouse by die see nie, dis nie ‘n plek of geld nie – geluk is ‘n mens.Jy. Dankie, Cyril. ”

         Hulle huil weer ‘n bietjie, maar toe Cyril die pakkie oopmaak en twee van die outydse lemmetjies uithaal, raak hulle stil en amper rustig.

Buite seil twee meeue oor die see verby.

oOo

         Kortjas Uys hou toe sy woord en kom terug dorp toe.

         Die stoet is so lank die stert sing nog gesange deur die dorp toe die kop al by die begraafplaas indraai. Die twee lykwaens hou agter mekaar stil. Die kiste is van rou dennehout – “ op die Joodse manier, asseblief, ” het Kortjas in sy testament gevra.

         Gert en Hennie het Bokkie gehelp om alles gereël te kry. Hulle het ‘n probleem verwag met Kortjas se aandrang dat hy en Cyril op mekaar in dieselfde graf begrawe moet word, maar dis toe gou uitgestryk.

         Die westewind waai stof in die oop graf in. Dis tussen die hopies klip en rooigrond van ouer grafte waarop droë blomme in bierbottels en kruisies van doringdraad staan. Mooi grafstene is maar skaars hier rond.

        Toe die kiste op mekaar in die graf lê en die laaste woorde gesê is, bly Bokkie en Hanna nog ‘n rukkie daar staan.

        “ Kurt Jasper Uys, die eerste witte wat in die erdvarkgate begrawe word, ” sê Hanna en glimlag treurig. “ Ek kan sien hoe lê en smile jou oom. ”

        Bokkie knik en glimlag ook.    

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *