WANDELSTOK 1 – DIE OORLOGKIERIE
Ysterhout, akasia, asboom: dis wat ‘n slim kieriemaker soek, hy weet daar is nie nie beter hout vir ‘n wandelstok nie. “A fine walking stick,” het Winston Churchill geglo, “is more than a stick. It’s a true friend.” Ek vermoed my ysterhoutmaat het een keer my lewe gered.
My oupa Jan Abraham, in 1902 ‘n krygsgevangene op die eiland van Sint Helena, het kierie gese. “Engelsmanne wandel met ‘n wandelstok, ons Boere loop met ‘n kierie.”
Ek maak al lank kieries bymekaar. Oorle oupa het my een van ashout nagelaat, my versameling het by hom begin. Daardie ashoutkierie het sy eie storie. Elkeen van my loopmaats het ‘n storie. Wees gewaarsku: daar is liefde en haat in die stories, soms geweld en bloed ook. En minstens een spook.
In 1974 word ‘n groepie joernaliste na die Durbanse kantoor van Hint Hyman ontbied. Oom Hint, soos almal hom genoem het, is toe nog die baas van ‘n tydskrifgroep wat Keur, Ster, Rooi Rose, Your Family en Scope Magazine insluit. Hy vertel die joernaliste Scope Magazine wil ‘n kleurbylaag oor Rhodesië doen, en die groepie moet stories en foto’s oor die oorlog daar gaan haal.
Die leier van die joernaliste, bekende oorlogskorrespondent Al J. Venter, voel ons kan onsself gelukkig ag dat Rhodesië ons in die gevegsgebied toelaat; hulle loods nou Operation Hurricane en die firefights raak hot van al die enemy ambushes, boys, ons gaan geskiedenis maak met die Rhodies se grootste poging nog om terroriste in hulle bergskuilings te vernietig.
Ek is een van die groepie, en ek het een vraag: Hoeveel onse is in hierdie boys se pond? Ons moet onsself gelukkig ag die vyand gaan ons dalk ambush vir ‘n lekker hot firefight…wat as Operation Hurricane nie net terrorisme in die berge vernietig nie? Wat as dit per ongeluk ‘n joernalis of vyf vernietig? Ek was self nog nie in ‘n hot firefight nie, moet daar vir alles ‘n eerste keer wees?
Maar ek is ‘n jong snotkop en my eer is op die spel. Regtig, daar was ‘n tyd toe ons mans nog dowwer was as julle vandag.
Sny na vroegsomer 1975, Salisbury, Rhodesië. Vandag is dit Harare, Zimbabwe. Ons groepie se tydelike basis is gelukkig nie so rof soos tydelike basisse in die bos kan wees nie: ons het elkeen ‘n mooi kamer met badkamer in die Monomotapa Hotel.
Dit blyk nie dat hier ‘n oorlog aan die gang is nie. Smouse smous op straat, strippers strip in die nagklubs, net taxi’s probeer ander taxi’s ambush. What did you do in the war, daddy? My kind, so doen ek Operation Hurricane fluit-fluit.
Ek het nie geweet Al J. Venter begin ‘n oorlog met ‘n naweekpas nie. Ek sweer dit was sy idee om ons senuwees eers met ‘n kuier om die vleespotte te kalmeer.
Vier of vyf of ses dae later – interessant hoe maak tyd as jy dalk min daarvan op aarde oor het en al begin vergeet hoe slaap ‘n bed – tel ‘n tjopper van Fireforce my by ‘n stick iewers in die bos op en laai my by ‘n ander stick iewers in die bos af. Fireforce is die Rhodies se helikoptermag, ‘n stick is die kleinste groepering van hulle troepe op die grond: tussen vier tot agt ouens wat soos Boere lyk maar Engels praat, uniform is t-hemp, PT-broek, tekkies en ‘n slaprandhoedjie. Net soos die Boere in Angola. ‘n Stick was ook nie met seep nie, die terrs kan dit glo twee komma vyf kays ver ruik. Almal stink ook soos die Boere in Angola.
Die een verskil: Hierdie boys se wapens is ouer en werk skynbaar harder as die Boere in Angola s’n, als het duike in, dop af, stink van die olie so goed word daar gekyk na die geweer en rewolwer wat jou lewe kan red. Die draradio’s en slaapsakke werk maar lyk of hulle ook maande laas op ‘n naweekpas was.
Ons mag nie mekaar se name weet nie. Ek is die Beardless Body. Op die tjoppers ook, hulle bespreek my so op die radio: “Beardless Body collected from Abandoned Farm K, about to drop Beardless Body at Abandoned Farm T.”
‘n Stick het nie wiele nie. Tjoppers bring hulle in en kom haal hulle weer uit. ‘n Stick loop. Berg-op deur die bos, berg-af deur die bos. ‘n Stick ondervra en deursoek statte in die bos. En kyk of statte genoeg kos het, ‘n stat met te min kos voer terrs en steek hulle iewers weg. Vang en skiet die terrs, steek hulle aan die brand, hou hulle ID docs en skoene. Special Branch se spoorsnyers versamel skoene soos vingerafdrukke, elke skoensool los skynbaar ‘n spesifieke spoor.
Elkeen in ‘n stick dra sy eie rubbish: ek dra ’n rugsak met my opgerolde slaapsak daaraan vas, my kamera met filmrolle in ‘n skouersak, ‘n pak notaboekies, penne, tjoklits en biltong in dieselfde sak, en twee vol waterbottels aan my belt vas. Twee is glo genoeg. Se gat, ek het laasjaar per ongeluk in die ruigtes van Caprivi verdwaal en amper omgedop van die dors. Ek wil nie per ongeluk heengaan nie, dankie, my tyd moet geboek wees.
Snags slaap ‘n stick in ‘n tydelike basis. Dit kan enige plek in die bos wees. Ek kon nooit uitwerk hoe besluit die stick leader nie. ‘n Engel verskyn dalk in ‘n gesig aan hom en kondig aan: “Let them drop their sleeping bags here on the ballbiter ant’s nest, the ground is lekker kliphard.” Dan maak almal of hulle slaap en maak beurte om wag te sit. Niemand staan nie. Die terrs kan ‘n silhoeët glo twee komma vyf kays ver teen die naglug sien.
Op dag agt – ek weet dit was dag agt as gevolg van die ef-op wat gebeur het – ondervra en deursoek die stick ‘n stat wat reg lyk: Genoeg kos, local pops vriendelik, antwoord al die vrae. Ek dwaal weg, neem foto’s. ‘n Tandelose oupa sit voor sy hut en vryf ‘n kierie met ‘n soort sap blink. Ek weet al hoe lyk ysterhout. Dis ‘n pragtige kierie.
Die oupa sien ek stel belang, glimlag haasbek: “Four dollar.”
My hart gaan staan. Het ek ooit geld aan my? Ek grawe in my sakke, kry ‘n Suid-Afrikaanse tienrandnoot uit. Die oupa skyn asof hy die Hiernamaals sien en gryp die tienrandnoot. Ek gryp die kierie.
En min of meer daar begin die skote klap. Ek slaan dekking. Nee, ek jok, ek doen niks so militêr kalm en korrek nie, ek sak eenvoudig inmekaar. Nog skote klap. Die oupa is weg. Ek kruip met die kierie by die oupa se hut in. Surprise! Hy is nie hier nie. Die skote word masjiengeweervuur. Ek verander die bedompige hut in my tydelike basis en raak so plat moontlik op die onwelriekende grondvloer, geen bleddie terr gaan my silhoeët twee komma vyf kays ver teen die lug sien nie.
Dis waar die stick leader my toe kry. Na die firefight waarin hy twee troepe verloor het. Die stat het ons in ‘n ambush gelei. Almal was net te donners vriendelik.
Dit tref my: Ek het inderdaad die kierie by ‘n sogenaamde terr feeder gekoop.
En moes toe later op Jan Smuts-vandag-Oliver Thambo my lyf smokkelaar hou. Sorry, customs, my nuwe kierie bly nie op ‘n vliegtuigrak agter nie. Ek het dit in die vliegtuig se kleinhuisie binne-in ‘n losserige sweetpakbroek aan my been vasgeplak (in die proses ‘n hele pakkie pleisters opgebruik!) en so normaal moontlik deur doeane geloop.
Ek het dit oorleef. Dink natuurlik nou nog ek kon my dinges in 1975 teen die hang van die Mukumbura Mountains gesien het. As ek by die stick gebly het.
Vergeet dit, my ysterhoutmaat is nie te koop nie. Hy is in oorlog gebore maar woon nou al dekades lank vreedsaam saam met my ander kieries in die melkkan wat hulle huis is. So nou en dan vat ek hom uit vir ‘n spin.

