SKRYF VIR TV
Les 6
Vir wie skryf ons eintlik tv-stories?
Orraait, fyn, die korrekte antwoord moet seker wees: Vir die kykers van ‘n tv-kanaal. Ons wil tog soveel mense as moontlik met ons stories bereik.
Daar is ‘n ander antwoord ook: Ons skryf stories vir onsself, vir iemand na aan ons. In my geval was my ma my beste kykgehoor. Omdat sy so na aan my was, ek haar smaak so goed geken het, was haar teenwoordigheid altyd by my wanneer ek aan ‘n draaiboek vir ‘n tv-reeks gewerk het. Sal Ma hiervan hou? Gaan hierdie toneel Ma laat lag? Bang maak? Laat huil? Gelukkig vir my was haar smaak en die van miljoene ander kykers nogal dieselfde, anders sou dramareekse soos Arende, Konings, Onder Engele en Vlug na Egipte maar swak gevaar het. Sedert my ma se dood sukkel ek soms om my kykers duidelik te sien, en ek weet dis glad nie goed so nie. Ek moet nou hard fokus op iemand wat die rol van kykgehoor die beste vir my vertolk. Gelukkig is daar iemand, maar dis my besigheid, okay?
Kom ons noem dit my extra tip vir oulaas: Probeer en skryf vir iemand wat jy goed ken. Dis moeilik om jou die smaak van miljoene te verbeel.
Hierdie week, in ons laaste geselsie, praat ons oor
Styl, navorsing en begroting
Die oorspronklike King Kong, geskep as boek in 1930 en daarna vir die eerste keer verfilm, is deur elf verskillende draaiboekskrywers voor een uiteindelik die wenner was. Ons weet dis die storie van ‘n reusagtige gorilla wat op ‘n eiland uit die oertyd ontdek word. Die draaiboek wat uiteindelik as die beste een gekies is, het soos volg begin:
EXT SKULL ISLAND DAWN
Beyond the blue and black horizon a purple sky promises the coming of dawn. As our first titles appear, a golden sun rises in that purple sky and shows us the island jungle with its lush green, yellow and orange colors.
Tot sover. Wat dink julle? Die skrywer wil ons wys hoe lyk die eiland waar ons die groot gorilla en ander oermonsters gaan ontmoet. Is dit ‘n goeie plek om die storie te begin?
Nee, ek dink dis absoluut belaglik. En my probleem is nie die plek waar die storie begin nie, ook nie noodwendig die onnodige mooiskrywery nie, my probleem is hoe kleurryk die openingstoneel deur die skrywer beskryf word.
Daar was daardie jare nog nie kleurfilm nie. Al beskryf die beste draaiboekskrywer in Hollywood die pragtigste reënboog met die beeldskoonste woorde, geen kameraman kon destyds kleur verfilm nie. Swart en wit, that’s it, dis al wat die eerste King Kong ooit kon wees.
Met ander woorde daardie skrywer het ons tyd met ‘n klomp mooi woorde en nonsens oor kleur gemors. En dit mag ‘n draaiboekskrywer nie doen nie. Daar lê altyd ‘n stapel ander draaiboeke wat wag om gelees te word. Vang sulke nonsens aan en joune gaan besonder gou belangrike lesers se aandag verloor (die met die geld) en dan tien teen een nooit verfilm word nie.
Woorde is belangrik. Ek praat nie net van die woorde, die dialoog, wat jy in jou karakters se mond moet lê nie. Ek praat van die woorde waarmee jy die draaiboek skryf, en hierdie woorde bestaan uit drie afdelings: STYL, NAVORSING en BEGROTING.
STYL is die woorde waarmee jy die storie moet vertel. Doen my ‘n guns en lees weer die openingstoneel van die ou King Kong hierbo. Klaar gedoen? Orraait, fyn, lees nou hoe sou die woorde in ‘n slim draaiboek gelyk het:
EXT SKULL ISLAND DAWN
Open on island horizon. Sun rises as first titles appear. Go to lush jungle as titles continue and threatening title music starts.
That’s it, finish en klaar. Jy vertel die kameraspan alles wat regtig nodig is, en jy mors niemand se tyd met ‘n string mooi woorde nie. Onthou tog, om vadersnaam, dis nie ‘n boek wat jy skryf nie, dis ‘n draaiboek. Jy rig jou woorde hoofsaaklik aan die mense wat by die verfilming betrokke gaan wees. Jou draaiboek is basies die kaart wat hulle moet volg. Hulle vra nie jy moet ‘n prentjie van ‘n bos teken waar daar in die storie ‘n oerwoud moet wees nie. Die woord jungle – oerwoud as jy in Afrikaans skryf – is meer as genoeg vir hulle.
NAVORSING word benodig as jy wil hê die kameraspan moet jou woorde vertrou. Selfs al skryf jy ‘n storie oor jouself of jou eie familie, mens dink net jy onthou korrek. Onthou jy regtig waar julle getroud is? Maak seker. Weet jy regtig of jou pa al ‘n kar besit het toe hy die eerste keer vir jou ma gaan kuier het? Praat met iemand wat onthou of google die feite as jy kan.
Ek moes onlangs ‘n Amerikaanse skrywer se draaiboek dokter. Ander se draaiboeke dokter is ‘n gawe inkomste wanneer jou eie draaiboeke sukkel. Die skrywer is gevra om ‘n historiese storie te skryf wat aanvanklik in Suid-Afrika begin. Dis veronderstel om ‘n ware verhaal te wees. Die skrywer het duidelik nooit die moeite gedoen om feite oor Suid-Afrika te google nie. Hy skryf onder andere ‘n toneel waarin ‘n karakter vir ‘n baie belangrike afspraak van Bloemfontein na Johannesburg moet reis. Dis ‘n treinreis, die karakter het nie ‘n voertuig of geld vir ‘n vliegtuig nie, en dis veronderstel om in 1970 te gebeur. Die skrywer vertel dis toe ‘n sneltrein wat, gelukkig vir die karakter, die afstand tussen Bloemfontein en Johannesburg sommer in 50 minute kaf draf. Rêrig? Verbeel jou jy sit en kyk na hierdie nonsens op televisie. Ek wed jou jy gaan van daardie oomblik af nie die res van die storie glo nie. Dis hoekom navorsing, selfs oor klein dingetjies, so belangrik is.
BEGROTING is dalk die belangrikste van hierdie drie afdelings. Ek huiwer om so te sê, want styl en navorsing is verskriklik belangrik, maar kom ons wees eerlik: As die geld opdroog terwyl ‘n storie verfilm word, is dit gewoonlik die einde van daardie storie. Ek weet van gevalle waar ander geldbronne beskikbaar geraak het, maar dit gebeur nie sommer nie.
As jy dink dis glad nie jou besigheid hoe word die geld tydens verfilming gebruik nie, gaan jou loopbaantjie as draaiboekskrywer van korte duur wees. Kom ek vertel jou ‘n geheimpie wat algemeen bekend in die bedryf is, hoewel baie voorgee dis nie regtig waar nie: Alles is altyd die skrywer se skuld.
So beskerm jouself sommer reg van die begin af. Dink aan begroting, hoe duur jou storie dalk kan wees. Kom ons sê daar is ‘n belangrike toneel in ‘n grot wat opgeblaas moet word. Sonder die toneel werk die storie nie. Orraait, fyn, skryf die toneel waar die grot ontplof. Skryf ook ander tonele wat in die grot geskiet kan word, noodsaaklike tonele, dele van die storie wat gebeur voor die grot opgeblaas word. Hoe meer tyd die akteurs en kameraspan in daardie grot gaan deurbring, hoe beter is jou kanse dat die ontploffing van die grot nie die geldmense van jou storie sal afsit nie. Tyd is geld in televisie.
In die dae toe ek ook my eie draaiboeke verfilm het, het ek hierdie waarheid oor en oor geleer. Tyd is geld. Omdat ek in ‘n spesifieke draaiboek verskeie tonele op die dak van ‘n gebou in Johannesburg laat gebeur het, het ‘n baie bekende akteur in die tonele my later daaroor aangevat. Ek vermoed die jong man het dalk aan hoogtevrees gely, daarmee simpatiseer ek – maar nie met sy houding dat ek almal se tyd met ‘n “op-en-af geryery met hysbakke” gemors het nie.
Tyd is geld, seunie. As ek almal met al die kameragoed vir net een toneel dak toe moes karwei, dan kon jy my van tyd mors beskuldig.
So kom ons aan die einde van hierdie geselsies. Ek het dit geniet en hoop julle ook. Mag dit vir nuwe draaiboekskrywers darem ‘n bietjie lig op die duisternis van die ambag werp. Dit is inderdaad ‘n ambag, ek noem myself eerder ‘n ambagsman as ‘n kunstenaar, en ek is dankbaar en trots daarop dat ek een kon wees.
Maak mooi stories en skryf lekker.
