OM VIR TV TE SKRYF

Hoe kan ‘n aap soos ek jou ‘n draaiboek leer skryf? Dalk glad nie, ons gaan net mekaar se tyd mors – maar wie weet, dalk kan ek jou beter leer as die aap wat prof voor sy naam skryf maar nog nooit regtig ‘n draaiboek geskryf het wat toe vervaardig is nie.

Soos ons almal weet, is daar baie laaie in baie kamers op aarde waarin ‘n skrapse hopie skryfpogings lê: dis of nooit vir publikasie of verfilming voorgelê nie, of dis net die begin van iets en is nooit voltooi nie. Van hierdie pogings is dalk gepleeg deur geleerdes wat draaiboekkursusse aanbied.

Pieter Pieterse het hulle walskippers genoem. Hulle staan op die wal en vertel ons hoe om ‘n boot te seil. Ek en Pieter het ‘n lang skryfpad geloop, en toe word hy wreed weggevat.

My kursus gaan jou nie beroof nie. Kursus? Dis ‘n woord wat ‘n prof sal gebruik. Kom ons noem dit liewer ‘n klomp geselsies. Verbeel jou is ek die kunstenaar Picasso en jy die ou wat wil leer skilder. Ons loop op die strand en chat. Eintlik wou ek al laasjaar so iets doen en verkoop, maar toe kliek ek jy het ook nie geld nie. So orraait, fyn, hier kom die eerste geselsie en dalk moet jy my net ‘n koppie tee koop, ek drink nie meer koffie nie. Maar net as jy wil, dis nie ‘n moet nie.

Genesis

Die begin: Gaan sit en skryf…

Nee, ek lieg. Die begin is lees: Boeke. Dan kyk: Films, tv-stories. En lewe: wat jy en ander om jou belewe is die stof van storie.

MENSE is storie: hou hulle dop, maar nie so dat jy gearresteer kan word nie. Luister hoe praat hulle, maar nie met ‘n typ wat hulle in die hof kan speel nie. Waar kry ek ‘n storie? Dis ‘n vraag wat ek baie hoor. Die antwoord: tensy jy sonder ‘n familie op die aarde beland het – in welke geval dit ook ‘n storie is, maar dis hewige sc-fi – word jy omring deur stories. Jou familie is stories. Jou vriende en vyande is stories. LUISTER, LET OP.

Orraait, fyn, dis ongelukkig nie al wat jy moet doen nie. Uieindelik moet jy natuurlik jou alie neerplak en ‘n draaiboek skryf. Om net daaroor te droom en te praat gaan dit nie doen nie. So ‘n klompie jaar gelede, op ‘n vergadering van spoke wat nie wil doodgaan nie – dis wat ek Matrieks ’65 Hou Paartie noem, of was dit ’66? – keer ons eerste span se een vleuel my voor en vra my uitdagend bo-oor sy ontsaglike boeppens: “Hoe’t jy dit reggekry om geld te maak met skryf? Ek kan ook skryf.”

Ek antwoord: “Ja, ek weet jy kan soort van, ek het van jou briefies aan Hester Hattingh (nie haar regte naam nie) onderskep, maar het jy later iets anders as soft porn probeer skryf?”

“Ek was besig,” antwoord die drukker van daai briljante drie in die hoek en nou kan hy nie my hand behoorlik druk nie, “maar ek gaan nog.” 

O ja, hy gaan nog skryf. Dis die verskil tussen sy soort en ‘n aap soos ek: Nadat my oom Lammert, my dierbare peetpa, my ‘n Olivetti-tikmasjientjie present gegee het, het ek daardie einste aand nog begin skryf. Dit was afgryslike gemors, maar ek het my alie op die stoel gehou en ek het aanhou skryf. Ek het my stories vir tydskrifte gestuur, en hulle het “met spoed, met spoed” (lees Jan F.E. Cilliers se Jopie Fourie-gedig)na my toe teruggekom, maar ek het bly skryf. “En ek is nog hy,” (lees J. van Melle se Bart Nel) ek is hy tot vandag toe: ek bly skryf.

As jy iemand is wat bly skryf, hier is my hand. Ek dink ek kan jou help.

Om vir TV en film te skryf, is ook om by die diepkant van ‘n groot en nogal ingewikkelde bedryf in te duik. Dit help beslis om te weet hoe die bedryf werk, hoe dit jou kan maal en uitspoeg as jou gees nie met ‘n gelaaide paint-gun gewapen is nie.

Ek is al ‘n paar keer gemaal en uitgespoeg, so daarmee kan ek jou dalk ook help: Let op hoe slinks gebruik ek die woord “dalk”. Nie almal kan die punch van hierdie bedryf vat nie, dit beter jy sommer nou weet.

Jy gaan moet weet hoe ‘n draaiboek lyk. ‘n Regte een, nie daai waarvan die walskippers jou met groot woorde vertel nie. Daar is ongelukkig baie walskippers: hulle staan geleerd op die wal en was nog nooit in die water met ‘n draaiboekboot wat hulle self gebou het nie. Ek glo ek kan jou help om een te bou en te seil look. Jinne, ek het al soveel draaiboeke vir film en televisie geskryf ek sal lieg as ek ‘n syfer moet noem. En ek gaan jou nie aan die einde van hierdie geselsies probeer vang met ‘n slenter dat jy nou moet inskryf vir ‘n regte kursus nie.

Hierdie klomp geselsies is die kursus, al gaan dit soms lyk of ek net grap en gesels. Ek voel regtig nie lus om maande aan formele en akademiese lesings te bestee nie, ek gaan totally bored raak. Ek wil dit eerder soos ‘n kuier benader, daai rustige wandeling op die strand saam met Picasso (hy het minder hare en ‘n groter boep as ek gehad) en dan ek praat sommer net oor wat ek geleer het en hoeveel bloed en sweet ek gestort het. Op ‘n paar plekke gaan ek iets doen wat ek nog nooit gedoen het nie: ek gaan jou grepe uit my ou draaiboeke as voorbeelde wys. Jammer daaroor, maar dis al manier om te leer. Jy gaan ongelukkig saam met die leer ‘n paar goor skinderstories oor die bedryf ook hoor, ek kan vreeslik skinner. 

Orraait, fyn, dis al waarvoor ek krag het hierdie week. Sien jou hopelik oor twee weke hier vir die tweede geselsie. Onthou, ek is by paul@paulcstories.com

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *