DIE SWART  KAT

SLAAN ‘N EDELMAN

(Eenbedryf deur Chris Sasner)

(@Kopiereg: G.C. Basson Vir dié eenbedryf is daar

net die stelle nodig wat aangedui word. Andersins moet die spelers – en gehoor – verbeelding gebruik

Karakters:

Die Veldt-gesin: Speurkaptein Veldt, Mevrou Veldt (Albei in hul middeljare) Rienie (16 jaar) en Borrie (12-14 jaar)

Tjalie Mossert (17 jaar, groot met lang onversorgde hare. Dra driekwart-kortbroek en stukkende T-hemp. Ou sandale.

Lennie Beyers (Borrie se pel)

Clive Steward (skurk van die verhaal, Engelse edelman)

TONEEL 1

          Gedekte tafel – Mev. Veldt, Rienie en Borrie besig om te eet. Stoel van Kapt. Veldt is leeg en staan effe weg van die tafel. Sy servet lê langs die onaangeraakte bord kos.

Mev. Veldt (sinies):

          Moord en Roof is besig om bankrot te speel, moet wees. Julle pa’s al speurder wat oor is. Of hy’s al een wat ‘n foon het.

Rienie:

         Of hy’s besig om Ma met hulle ontvangs te verneuk.

Mev. Veldt (nie beindruk):

         Darem seker nie die hele ontvangs nie.

Borrie:

          Of sersant Brilletjies het weer opgeslip en Pa moet hom red.

Rienie:

          Wat weet jy? Kobus sal Pa nie onnodig pla nie. Hy’s nie ‘n pyn soos jy nie.

Mev. Veldt:

          Rienie, jy en Borrie moenie vandag met my begin nie. Dis genoeg dat …Wie’t gebel?

Kapt. Veldt maak sy verskyning. Hy is besig met sy selfoon.

Kapt. Veldt:

          Ek moet my dinges roer. Bêre my kos. Daar’s ‘n ding by die Beyerse se huis.

 Borrie:

          By Lennie-hulle? Watse ding?

Kapt. Veldt (tik iets in sy selfoon):

          Lennie is ontvoer. Sy pa’t gebel.

Borrie (geskok):

          Nooooit! Wie de don -?

Mev. Veldt (duld nie ‘n gevloek nie):

          Nie onder hierdie dak nie, Borrie. Wie sal so iets doen?

Rienie:

          Dis tien teen een ‘n joke. Is jy in op dit?

Borrie:

          Hoekom is ek altyd die skuldige party?

Rienie:

          Die skuldige party. Praat of jy ‘n kind is, toe.

Mev. Veldt (binnemonds):

          Ek moes die Pil gedrink het.

Kapt. Veldt (klaar met sy selfoon):

          Ek moes jou gehelp het. Sy pa’t ‘n afdreignota gekry, nou-nou het. Dis so in die posbus gelos iemand móés dit sien.

Rienie:

         Die Beyerse het ‘n posbus wat werk?

Mev. Veldt:

         Die arme mense! Wie sal so iets doen? Soek hulle geld?

Kapt. Veldt:

         Ek weet nie wat gaan aan nie, vrou. Gee my kans om uit te vind.

Mev. Veldt:

         Miskien is dit iets anders. Jy weet, die ou mense het gesê stof lê nie net waar jy dit kan sien nie.

Borrie kom na die rand van die verhoog en praat vertroulik met die gehoor. In die agtergrond gaan die gesprek tussen Kapt. Veldt en Mev. Veldt en Rienie vrou ongehoord voort.

Borrie:

          Miskien is my sussie reg, gebeur so een keer ‘n jaar. Lennie hou van sy jokes, maar dit kan ‘n kriminele oortreding wees. Sy pa is die stigter van die Grendel Bank.Die Beyerse ly nie. Lennie se X-box het ‘n X-box.

Hy sluit weer by die gesprek aan.

Rienie:

          Gaan Kobus Pa help met die saak?

Kapt. Veldt: Gee my kans om daar te kom, asseblief. Ek weet nog net wat julle weet.

Mev. Veldt:

          Foeitog, die Beyerse het geld. Hulle gaan daai seuntjie nie verniet terugkry nie.

Rienie:

          Miskien wil hulle hom nie verniet terughê nie.

Kapt. Veldt:

          Dankie vir jou insae, Rienie.

Rienie:

          Ek sê maar net, hy en Borrie kom uit dieselfde weeshuis.

Borrie:

          Hey.

Mev. Veldt:

          Rien, jy’s nie altyd so snaaks as wat jy dink nie.

Borrie (aan die gehoor, asof dit als verduidelik):

          Sy’s sestien.

Kapt. Veldt:

          Onthou net een ding – veral jy, Borrie. Ons praat met niemand hieroor nie. As daar ‘n ontvoerder of ontvoerders betrokke is…hulle mag nie weet die polisie weet al nie. Dit kan gevaarlik vir Lennie –

Borrie (dramaties):

          My vriend se lewe is op die spel.

Kapt. Veldt knik somber en stap uit.

Rienie (wrang aan Borrie):

          “My vriend se lewe is op die spel.” Rêrig?

Mev. Veldt:

           Moenie. Altwee van julle. Daar’s ‘n pa en ‘n ma wat nie vannag gaan slaap nie. Hulle kind se bed is leeg.

Borrie en Rienie lyk skuldig. Ligte doof. Swart Kat se kenwysie op.

TONEEL2

Ligte op, kenwysie uit. Borrie voor ‘n vollengte spieël in sy Swart Kat-mondering sonder sy masker. Aan sy gordel is sy kettie, ‘n jagmes in skede, ‘n penflits en ‘n tou.  Hy praat met die gehoor:

Swart Kat (dramaties):

          Ontmoet die vreeslose, die briljante Swart Kat. Ek bedoel, ontmoet hom weer. Julle het hom al op tiewie gesien. Lennie Beyers is ontvoer, en wie ken Lennie beter as hierdie gemaskerde wonder? Ons het al saam uit dieselfde bottel gedrink sonder om dit eers af te vee. Dit is die Swart Kat se plig – bondgenodelike plíg – om Lennie uit die kloue van ‘n ontvoerder  of ontvoerders te red! ( Nog nader aan die gehoor):  Bondgenodelik aka  vriendskap so goed as wat ons kan. (Hy trek die masker oor sy kop aan): Wees nie bevrees nie, Lennie: Die Swart Kat is op die spoor!

(Hy swaai dramaties om, die ligte doof en die kenwysie speel)

Ek wens ons het Darth Vader se musiek. Dis sooo cool op Xbox.

TONEEL3

Die verhoog is aanvanklik net genoeg belig sodat die sluipende Swart Kat vir die gehoor sigbaar is. Dan is daar skerp ligte af en hy koes, wil nie gesien word nie.

Swart Kat:

          Eina…Definitief nie loadshedding by die Beyerse nie, Pa en ou Brilletjies is seker al hier. (Oordoen Rienie:) Kobus, my hart…Ou Brilletjies is nie ‘n te vrot speurder nie, net vrot smaak in meisiegoed. Rienie moet ‘n groter size pantyhose begin dra, my bloedsomloop gaan opdroog.

(Hy reageer op iets by die ligte) Hou my vas! Dis mos…definitief, dis Tjalie Mossert daai…hmm, interessant, jy’s te laat wakker, Tjalie.  

(Hy praat met die gehoor)

          Spoiler alert! Tjalie is soort van tuinier-handyman wat jobs vir rykes hier rond doen, vir Lennie-hulle ook …Hy’t al die IK-toetse gedop, sjym, maar briljant met sy hande.

(Hy reageer weer op iets by die ligte, fluister)

          Tjalie, wat kyk jy? Wat soek jy? Jy kan nie so laat hier werk nie, pel.

(Vinnig aan die gehoor, fluister)

Hou my vas! ‘n Tjalie wat rondsluip in die nag en ‘n grand huis afloer…is hier ‘n kriminele oortreding in wording? Weet Tjalie iets van Lennie se ontvoering? (Hy swaai sy mantel dramaties na agter en leun nader aan die gehoor) Moenie komkommer nie, kyk net: Die Swart Kat gaan als uitvind!

Op agtergrond verskyn Tjalie, beweeg kop omhoog agteruit asof hy na die Beyerse se huis bly kyk. Hy hoor iets, steek vas, kyk agterdogtig  rond. Swart Kat val plat. Tjalie spits sy ore, hoor en sien niks, beweeg agterdogtig van die verhoog af.

Swart Kat (aan gehoor, soos ‘n samesweerder):

So tussen julle en my, ek dink die Swart Kat beter uitvind wat konkel Tjalie in die donker. Tah-dah! Dames en here, dit het tyd geword vir die beroemde Swart Kat-loop!

 Met gepunte tone en arms weg van sy lyf, begin hy die beroemde Swart Kat-loop agter Tjalie aan. Die ligte doof en musiek op.

TONEEL 4

Suggereer ‘n skrootwerf. Tjalie sit by ‘n pompstofie met ‘n mooi nuwe keteltjie daarop. Daar moet ook ‘n sterk lantern naby hom wees. Hy maak koffie soos toffie in ‘n blikbeker aan, “rap” Hansie Slim terwyl hy dit doen…vergeet bietjie die woorde en ad lib sy eie. Die Swart Kat op, sluip so stil moontlik nader, struikel lomp en vies oor onsigbare voorwerpe.

Swart Kat(fluister verontwaardig aan gehoor):

          Ja-ja, okay, sluip julle in die donker rats oor al die scrap in ‘n scrapyard. Tjalie plak hier in ‘n ou stukkende bus.My sussie gaan dink ‘n muis het ‘n smaak vir pantyhose ontwikkel. Maar ek is darem hier in een stuk en Tjalie is of doof of hy dink rotte doen volkspele in die scrap…sy fout, grooooter as groot fout. (Hy haal dramaties die kettie uit sy gordel) Voila aka check dit uit, met sy getroue kettie gaan die Swart Kat nou die waarheid uit die verdagte kry!

(Hy sluip tot agter Tjalie, kettie oorgehaal. Tjalie is net klaar met sy verminkte weergawe van Hansie Slim toe druk die Swart Kat die hef van sy kettie agter teen Tjalie se nek)

Swart Kat (probeer ‘n diep, growwe stem): Roer ‘n ooglid, net een, asseblief, ek wil graag jou kop wegblaas!

Tjalie(skrik, benoud): O…vloed! Ek het geweet ek moes eers gaan piepie het.

Swart Kat:

En as jy nie nou die waarheid praat nie, gaan daar net ‘n nat kol van jóú oorbly.

Tjalie (bang):

          Ek jok nooit, vra my ma…nee, ek het nie meer ‘n ma nie…wie is jy?

Hy wil omkyk maar die Swart Kat druk die kettie se hef harder teen sy nek.

Swart Kat:

          Kyk om en hierdie loodpil vlieg regdeur jou kop, Tjalie Mossert!

Tjalie:

          Ek kyk nie om nie ek kyk nie om nie w-w-wat wil jy weet? Dissie ekkie, ek sweer, antie Bloem se groenvye het self afgeval toe tel ek dit net op voor dit vrot, genuine, ek eet nie eers vye nie, ek mag nie vye eet nie, ek slaan sulke klein rooi kolletjies –

Swart Kat:

           Stil, pofadder!

Tjalie:

           Ek is stil ek is stil!

Swart Kat:

           Tjalie Mossert, jy wat gras sny in die tuin van die Beyerse naby hulle posbus, jy wat Lennie se pa se Lamborgini naby hulle posbus was –

Tjalie:

           Issie issie, ek was net sy kar. Lennie was nooit niks, hy’s bederf –

Swart Kat:

           Sjaddap! Wie’t ‘n brief so in hulle posbus gesteek iemand moes dit sien? Was dit jy, Tjalie Mossert, was dit jy?

Tjalie:

           Die Beyerse het ‘n posbus?

Swart Kat (stamp hard met die kettie in Tjalie se nek en fluister wreed by sy oor):

           Hoe rooi is jou bloed, Tjalie? Weet jy? Moet ek jou wys hoe lyk jou bloed?

Tjalie (begin troosteloos huil):

           My keteltjie was geroes, ek wou ‘n nuwe keteltjie koop, was ‘n bargain op ‘n special –

(Die kettie word nog harder teen sy nek vasgestamp en nou praat Tjalie baie vinnig)

Die oom het my cash betaal as ek die brief so insit lat dit bietjie uitloer lat almal in die huis dit kan sien, dis al, ek sweer, ek weet nie hoekom brand al hulle ligte vanaand nie, dissie oor die brief nie, kan nie wees nie, was net ‘n ou briefie, ek weet nie wat staan in dit nie, moenie my nuwe keteltjie vat nie, asseblief, ek vrek vir ‘n ou koffietjie.

Swart Kat:

          Wie’s die oom wat jou cash betaal het?

Tjalie:

          Hy’t ok soos jy my hierso kom bekruip, genuine, maar dit was in die dag, hy’t ok ‘n gewolwer teen my kop gedruk soos jy.

Swart Kat (wil teleurgesteld raak):

          Sê jy jy’t nie sy gesig gesien nie?

Tjalie (stoute laggie):

          Dis wat hý dink …Ek het oë agterin my kop as dit nie donker is nie, genuine; ek skeer al, ek skeer my baard elke more, en my snor en my saaidies en my rug waar ek kan bykom –

Swart Kat (Tjalie put hom uit):

           Ag ek wens so ek kon jou skiet.

Tjalie (triomfantlik):

           Ek weet wie die oom is, op my woord, genuine, ek het hom in daai blink stuk sinkplaat daar oorkant uitgemaak, dis my spieël as ek skeer, dissie oë agterin my kop.

Dit maak die Swart Kat so opgewonde hy vergeet sy growwe stem, gryp Tjalie aan sy skouer, skud hom, en dit laat Tjalie omkyk.

Swart Kat:

          Wie’t jy gesien? Sê my sê my, wie’s dit? Is dit ‘n oom wie ons ken?

Tjalie het ‘n gevaarlike figuur agter hom verwag, hy is teleurgesteld.

Tjalie:

           Serious? Wat’s dit? Pantyhose? Swart? Jy weet dit pas nie by wit tekkies nie.

Swart Kat:

           So nou weet jy als van fashion af? Vertel my wie’t jy gesien, Tjalie.

Tjalie:

          Dis oom Clive wat langs die Beyerse bly…is dit ‘n handdoek?

Swart Kat:

Sjaddap, praat jy van Clive Steward? Die Engelsman wat soos royalty praat, ‘n regte edelman?

Tjalie:

          Batman se lap is nie ‘n handdoek nie.

Swart Kat:

          Ek’s nie Batman nie, ek’s die Swart Kat, wreker van onreg, bestryder van kriminele oortredings.

Tjalie (probeer om nie te lag nie):

           Uh huh, en hulle sê ek is dof.

Swart Kat (ernstig aan die gehoor):

           Tjalie Mossert het sy doel gedien. Die Swart Kat se grootste taak lê nog voor vannag. Daar wag ‘n verrassing op Clive Steward, ‘n besonder onaangename een.

Tjalie:

           Is jy orraait, ou? Met wie praat jy?

Ligte doof en musiek op, “rap”-weergawe van Hansie Slim.

TONEEL 5

Die Swart Kat sluip op. Een sylig skyn, ‘n huis se buitelig.  In die lig sien die Swart Kat ‘n skeur in die een been van die swart pantyhose.

Swart Kat (doen ‘n Rienie wat kla):

          Maaaa, ons wasmasjien eet pantyhose. As ek die waarheid weet gaan ek ‘n beroerte kry. (Praat ernstig met gehoor) Dis Clive Steward se buitelig. Is dit waar hy Lennie Beyerse gevange hou? Wees nie bevrees nie, Lennie, die Swart Kat slaan toe!

(Hy exit by die sylig. Die lig doof. Hy fluister)

Dankie tog, wonderwerke gebeur nog. As dit ‘n motion detector was, was die Swart Kat en hierdie storie nou verlede tyd. Kan ek asseblief ‘n oop venster ook kry? Net op ‘n skrefie? Groot asseblief?

(Binnelig op. Hy maak of hy versigtig deur ‘n venster na binne klim. Bly fluister)

Dis hoekom versekering so duur word. Huisbewoners is so agterlosig. ‘n Oop venster is ‘n uitnodiging vir kriminele oortreding, sê speurkaptein Veldt altyd en my pa’s ‘n man wat weet waarvan hy praat.

(Hy haal ‘n sterk penflits uit, skyn dit rond, bly fluister)

Hou my vas. Hoeveel kos hierdie meubels? Sjoe, duur skilderye. Net nie hierdie een nie, lyk of Rienie dit geteken het en my sussie kan nie eers haar naam teken nie.

(Hy skyn kamma naby op die skildery met sy flitsie)

O, Picasso. Hoekom sê julle nie so nie? Of is dit ‘n fake? Is dit ‘n fake?

(Hy steek nuuskierig sy hand uit, asos hy aan die skildery wil vat, skielik is daar ‘n harde slag: die skildery het van die muur af geval)

Ek hoop dit was ‘n fake.

Ligte doof en musiek op.

TONEEL 6

Kamerlig op. Lennie Beyers lê met sy een hand geboei aan die kopstuk van ‘n enkelbed, gespanne. Hy het nog skoolklere aan. Langs die bed staan ‘n sak skyfies en ‘n oop bottel koeldrank. Clive Steward beweeg senuweeagtig rond, rewolwer in sy belt, selfoon oop in die hand, luister gespanne asof hy die skildery hoor val het. Hy is in heel smaakvolle slenterdrag geklee.

Steward (hoge Engels):

 Could have been the wind, dear boy. Place looks quite expensive but it’s falling apart, I only rented it because it’s the last place they’d look for you, right next door.

Lennie (haat Steward):

           Dan het die wind ‘n hele boom omgewaai, dit was ‘n harde slag.

Steward (betreur sy lot):

           I do the brat a favour, get him out of the house, now he hates me – you should thank me, dear Lennie, your father will never threaten you with boarding school again, your mom won’t let him. Absence makes the heart grow fonder. And the cops won’t be back again tonight. They’re looking for you at the bottom of a river or someplace equally tragic.

Lennie (hou emosie in):

           Jy moes vir minder as tien miljoen gevra het, my pa dink nie ek’s soveel werd nie.

Steward (kyk op die foon):

          Nothing in yet, could simply be the delay. The Cayman Island banks are the safest, but their transfer delays can be murder –

(Kamerlig doof onverwags, hy reageer agterdogtig)

That’s not supposed to happen. Hello?

(Skielik skyn die Swart Kat se penflits in Steward se oë, verblind hom)

What the bloody – !

Swart Kat:

          Jou dae is getel, skelm!

Nou moet iets asemrowend gebeur: die penflits dans soos ‘n laserstraal wat rondspring, gee ons kort flitse van Steward en Swart Kat; ons kry die gevoel die Swart Kat en Steward stoei geweldig en woes dwarsoor die verhoog.

Steward:

           I’ll break you in small…get away from me! Who is this?

Lennie (benoud):

           Wat gaan aan? Waar’s julle? Steward! Wat gaan aan?

Swart Kat:

            Ontspan, Lennie, ek’s nou by jou!

Steward:

           Wait a minute – is this a joke? You sound like a bloody boy!

Swart Kat:

            Jy wens, pofadder! Ek is die wreker van onreg en jy’s op my lys!

Lennie:

            Borrie? Is dit jy?

Steward:

            He’s insane! Wait – the gun! He’s got the gun! Duck-duck, he’s got the gun!

Kamerlig skielik op. Steward kniel op die vloer. Die Swart Kat staan met een hand op ligskakelaar, rig met die ander Steward se rewolwer op hom. Lennie word deur die skielike lig in ‘n onverwagse posisie onthul: hy is besig om orent te kom, het sy boei self losgemaak.

Steward (verontwaardig aan Lennie):

             What’s wrong with you? Grab the gun! He won’t shoot you!

Swart Kat (wrang aan Lennie):

             Gedink iets klink nie lekker nie. Jy’s geboei maar hy klink gevang.

Lennie:

             Borrie? Jy klink soos Borrie Veldt.

Swart Kat (probeer sy stem dieper maak):

             En jy klink soos die bedorwe brokkie wat jy is. Hy vat helfte en jy vat helfte, was dit die deal?

Steward (speel desperaat toneel):

             Who…why…what’s going on? I…I think I’ve been drugged, where am I?

Swart Kat:

             Asseblief, jy gaan nie ‘n Oscar wen nie, kamstige Edelman.

Lennie (desperaat):

             Ek sê jou wat, ons wag net vir die geld, gaan nou inbetaal word, jy kan sy helfte kry, ons spin die twee speurders ‘n storie.

Steward:

             Oh, you ungrateful little –

Swart Kat:

              Sjaddap!

(Stewart sjaddap. Swart Kat praat treurig met sy pel)

Vat sy foon, Lennie. Bel jou ma. Ek dink sy mis jou.

Lennie (ook treurig):

             Wie de vloek is jy?     

Swart Kat:

             Die swart kat. Ek maak stof skoon. My ma’t my geleer dit lê nie net waar jy dit kan sien nie.       

Ligte doof, kenwysie speel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *